Buk juffie en maak of dit lekker is!


Ek onthou die eerste keer wat ek stokkies gedraai het nog baie goed. Die rede vir hoekom ek so goed onthou is waarskynlik omdat ek vir etlike dae soos die ’n vlieënde piering van die vliek Independence day bo die toilet gesweef het wanneer belangrike ringsittings in witbank moes plaasvind. Die rede vir die sweef was natuurlik die feit dat daardie dag na die stokkiesdraai vir die sweep ’n rottang gewag het. Ja, die sweep was ook eens geklap maar op ’n baie meer fissiese manier as wat hy nou weekliks klap.

Die rede vir die deel van hierdie opvoedkundige brokkie is natuurlik die aankondiging van ministress van onderdwaas dat altesaam 7.5 miljoen skooldae verlede jaar verlore gegaan het weens die juiste omwenteling van takkies. Die groot verskil is natuurlik dat die skuldiges nie gewiks was nie, nie omdat hulle nie uitgevang is nie, nie omdat stokkiesdraai so na aan ’n nasionale sport is dat Nike al mense daarvoor borg nie, ook nie omdat lyfstraf deesdae as ’n groter misdaad is as molestering beskou word nie, maar bloot oor die onbenullige en amper onnodigvermelde stukkie besonderheid dat die skuldiges die onderwysers was!

Maar neeeeee! Die kinders mag nie die onnies inwag met rottangs nie. Die kind mag nooit die dubbele teepot met die hande op die heupe gooi en sê: Toe juffie, waar was jy miskien gister? Buk sommer vir ses en maak of dit lekker is! Nee, wat hulle kry vol salarisse en seker nog bonusse ook. Ek wonder hoe vergelyk die CVO onnies in hierdie verband.

Hoe dit ook al sy, staatskoolkindersis blykbaar vrekslim aangesien hulle selfs sonder onnies nog ’n slaagsyferverbetering getoon het terwyl al hul handboeke op ’n hoop êrens in die Noord-Transvaal lê! Daar is diegene wat waag om te bespiegel dat daar dalk met die uitslae gelol is of dat die standard net pateties is, maar hulle is net negatiewe denkers wat die reënboog versuur!

Tot volgende slag

Die Sweep