BRIEF: E-tol deel van ‘massiewe korrupsie’


Terry Crawford-Browne

Die onderstaande brief het in n dagblad verskyn en word woordeliks geplaas in Die Vryburger

Alle Suid-Afrikaners moet die Bondgenootskap teen Stedelike Tol se regsaksie teen die Gautengse e-tolstelsel steun. Die e-tol is deel van massiewe korrupsie wat die oorlewing van grondwetlike demokrasie in die gedrang bring, skryf Terry Crawford-Browne.

Toe ANC-intelligensieagente onder leiding van Bheki Jacobs die fluitjie oor die wapenskandaal in 1999 geblaas het, het hulle aan my gesê die wapenskandaal is maar die oortjies van die seekoei.

Volgens dié agente was daar ’n algemene verband tussen olietransaksies, rybewyse, Coega, Cell C, diamant- en dwelmsmokkelary, handeldryf in wapens, geldwassery en tolpadkontrakte.

Dié verband was ’n 10%-oorbetaling aan die ANC in ruil vir politieke beskerming.

Dit is waarom dit so belangrik is dat elke Suid-Afrikaner die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) se regsaksie teen Gauteng se e-tolstelsel steun.

Die oorlewing van ons grondwetlike demokrasie is in die gedrang.

Die ANC weier om sy boeke vir openbare ondersoek oop te maak en voer telkens skynheilig aan dit is sy private sake.

Siende dat die ANC feitlik bankrot was, het die voormalige ANC-tesourier Mendi Msimang almal in 2007 op die Polokwane-konferensie verras deur te openbaar die ANC het bates van R1,75 miljard.

Dit het die ANC, selfs toe, een van die rykste politieke partye in die wêreld gemaak en die ANC-leiers het sedertdien skaamteloos aangehou met hul soeke na rykdom.

Die wapenskandaal het in September 1999 ontplof. Dit broei steeds vandag ondanks massiewe pogings van oudpres. Thabo Mbeki en sy kollegas om die skandaal te probeer toesmeer.

Tog laat ooreenkomste daarna, insluitende reuse-beleggings in elektrisiteit, die wapenskandaal soos kleingeld lyk.

Elke keer wanneer ons as Suid-Afrikaners ons ligte aanskakel, dra ons by tot die ANC se geldkas.

Die e-tolskandaal het uiteindelik in Mei verlede jaar ontplof.

Dit het openbare woede ontlok omdat die regering die burgers as een groot spaarvarkie beskou wat die ANC gedurig moet finansier.

In werklikheid was korrupsie met tolpaaie reeds so vroeg as in 1994 sigbaar.

Een van Schabir Schaik se maatskappye, die Nkobi-groep, was nie net by die wapenskandaal betrokke nie, maar het ook verskeie regeringskontrakte ter waarde van R10 miljard ontvang.

Van dié kontrakte was die skepping van die N3-hoofweg tussen Johannesburg en Durban as ’n tolpad en die ontwikkeling van die nuwe rybewyskaart.

Die departement van vervoer, onder leiding van Mac Maharaj, het in 1996 ’n kontrak oor rybewyse van R650 miljoen aan die Prodiba-konsortium toegestaan.

Vir elke hernuwing ontvang Prodiba R40. Die konsortium bestaan uit maatskappye in die Shaik-sakeryk:

** Idmatics, ’n filiaal van die Franse verdedigingsgroep Thales, wat ’n sentrale karakter in die wapenskandaal geword het.

** KobiTech, deel van Shaik se Nkobi Holdings. In daardie stadium was Shaik ’n plaaslike direkteur van Thales.

In 2005 is Shaik skuldig bevind aan korrupsie en dat hy omkoopgeld van Thales aanvaar het. Gevolglik is KobiTech in 2007 uit die konsortium geskop, maar Thales is steeds ’n lid.

Nkobi Holdings is na die wyle ANC-tesourier, Thomas Nkobi, genoem.

Dié maatskappy bestaan uit minstens een filiaal, Floryn Investments, wie se uitsluitlike doel was om “skenkings” na die ANC te kanaliseer.

Soos wat Jacobs verstaan het, was daar nog erger skandale soos vermeende ingewikkelde geldwassery deur die Reserwebank en die tesourie, wat Suid-Afrikaners glo al miljarde rande gekos het. Die aantygings is nog nie ondersoek nie.

Baie van die geldwassery is volgens Jacobs gedoen deur die Public Investment Commission (PIC), wat die staat se pensioenfonds bestuur.

Die PIC is nou Suid-Afrika se grootse finansiële instelling, wat meer as ’n R1 000 miljard bestuur.

Die PIC word deur die staat besit met die minister van finansies as die staat se ex officio-verteenwoordiger.

Ongelukkig is Jacobs, ’n voormalige intelligensie-agent van die ANC wat ’n tyd lank onder Mbeki in die ANC se departement van internasionale betrekkinge gewerk het, in September 2008 onder verdagte omstandighede in die ouderdom van 46 oorlede.

Baie van sy kollegas glo dat die kankers waaraan hy dood is met opset veroorsaak is en dat hy vermoor is.

Ek het ook die Seriti-kommissie, wat aangestel is om die omstrede wapentransaksie te ondersoek, gevra om sy dood te ondersoek.

Toe die e-tolsaak in die hof gedraai het, het dit ook aan die lig gekom dat die PIC sowat 50% van skuldbriewe besit wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) uitgereik is.

Daar is baie op die spel. Indien die e-tolprojek nie slaag nie, sal belastingbetalers nie net Sanral uit die skuld moet red nie, maar ook moet help om die sowat R8 miljard in staatsamptenare se pensioengeld te vervang.

Dit word nie eens meer bevraag¬teken of die e-tolstelsel te duur of bedrieglik was nie, nie eens deur die huidige minister van finansies, Pravin Gordhan, nie.

Sy ingryping in die saak in Mei verlede jaar was ongehoord en het ook vrae laat ontstaan oor wat die rede vir sy paniek was.

Dit het ’n bespotting gemaak van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en artikel 217 (1) van die Grondwet wat sê dat regerings kontrakte op ’n regverdige, billike en oop wyse moet hanteer.

Watter geraamtes het Gordhan saam met die e-tol, Sanral en PIC geërf?

Die verlaging van Suid-Afrika se kredietgradering deur drie internasionale kredietagentskappe voorspel die groeiende kommer oor die moontlikheid van ’n toekomstige ekonomiese inploffing, wat vererger word deur die regering se onvermoë om onrus regoor die land te beheer.

Die uitspraak in Desember verlede jaar teen Outa deur waarnemende regter Louis Vorster vererger ook die saak.

Kortweg, volgens Vorster, het belastingbetalers geen toevlug wanneer uitvoerende besluite irrasioneel, roekeloos en onwettig is nie.

Dit sal seker nooit in die konstitusionele hof staan nie? In die tydlose woorde van die Britse regsgeleerde lord Denning: “Fraud unravels everything.”

Terry Crawford-Browne is ’n aktivis teen korrupsie en skrywer van boeke oor die wapenskandaal en korrupsie.