Brandstof aanranding


Daar kan nie gesê word dat ons “aangedollar” word nie, daarom sê ons dat ons “aangerand” word, dit is die boodskap met nog ‘n petrol- en dieselprysverhoging wat op die motoris afgelaai gaan word. Die binnelandse petrolprys vir 95ULP-graad verhoog met 12c, diesel met 0,05 swaelinhoud verhoog met 9c en 0,005 inhoud met 10c. Die nuwe prys vir 95ULP petrol behoort dus R12,32 per liter te wees. Die verhoging tree eerskomende Dinsdag op 2 April in werking.

Voorheen kon ons die mini-ineenstorting van die rand en die verhoogde ru-olieprys verwyt, hierdie keer is dit nie die ru-olieprys se skuld nie. Die prysverhoging is te wyte aan die steeds verswakkende rand en ‘n belastingheffing van 23c per liter wat gehef word vir die Padongelukfonds. Die gemiddelde prys, gebaseer op die naweek pryse, vir ru-olie was $110 per vat vir Maart teenoor $115 vir Februarie. Dit is ‘n verlaging van ongeveer 4,3%. Op dieselfde basis bereken was die gemiddelde waarde van die rand teenoor die VSA dollar in Maart R9,21 teenoor R8,91 vir Februarie. Die is ‘n wisselkoersverswakking van ongeveer 3,4%.

Die oggend pryse vir ru-olie en die rand-dollar wisselkoers op 28 Maart is onderskeikelik in die omgewing van $109,93 en $9,25.