Beurend teen die steiltes


Die afgelope week se gebeure laat onwillekeurig die gedagtes terug gaan na daardie dag toe die Engelse ’n behoorlike drag slae gekry het – Majuba!

Hierdie week plaas ons ’n spesiale verslag oor die Fees wat by Majuba plaasgevind het. Die Boere-Afrikaners kan trots wees op die jongmense wat aan die stuur van sake gestaan het om alles te reël en te organiseer. Die mense het die Berg weer en weer uitgeklim. Die jonges met ’n huppel in die stap, die ouer garde beurend die steiltes uit!

Dat Suid-Afrika onder die top tien tel wat die meeste mense in die tronk het, is seker nie ’n verrassing nie – maar dit is ’n reuse skande!

Die tienerseun in die VSA wat ’n reuse ontdekking gemaak het met diagnosering van kanker in die pankreas, verdien ’n medalje. Hy het gedoen wat navorsers jare lank misgekyk het.

Die feit dat so baie dorpe nou met water probleme sit, is ’n bron van kommer. Onkundigheid en die wil om dinge reg te doen, blyk die hoofrede te wees. Die probleem gaan al groter word want instandhouding en opgradering van verouderde toerusting word nie gedoen ne en behoort tog munisipaliteite se belangrikste prioriteit te wees.

Die optrede van polisiebeamptes is al weer in die kollig. Wie kon dink dat na die fiasko by Marikana sou ons ’n tweede voorval beleef wat wreedheid van polisiebeamptes uitwys. Hierdie wreedheid sal vorentoe nog meer na vore kom as daar nie iets radikaal gedoen word om die polisie tot orde te bring nie.

En van Marikana gepraat. Nou staak die klomp al weer. Hoe die polisie hierdie keer die onwettige staking gaan hanteer, sal ons maar moet sien!

Die nalatigheid van die amptenary kom weer sterk na vore as die Minister van Verdediging beveel word om byna R2 miljoen aan ’n eiser te betaal – en dit is maar ’n voorlopige betaling!

Na mate die dae verby gesnel het, het die ontdekkings al meer geword van kullery met vleissoorte en etikette. Dit weerspieël een saak baie duidelik: Die beheer oor invoer goedere is blykbaar van nul en gener waarde – en dan is daar mense aan die stuur van sake wat gou is om te verduidelik hoe goed die landswette is. Blykbaar nooit daaraan gedink dat daardie wette toegepas moet word! Daardie toepassing was in die verlede deur gesondheidsinspekteurs en ’n hele span ontleders in laboratoriums gedoen!

Ons treur saam met die mense van Petrus Steyn oor die pa wat daar verdrink het. Ons treur ook saam met die mense wat in padongelukke omgekom het weens die agterlosigheid van een skepsel en die kapers in Kaapstad….….

Daar is nog veel meer te lees – besoek gerus die koerant met al sy artikels en nuusberigte by
www.dievryburger.co.za

Redakteur