As die kat kleintjies kry


Dit het al ‘n cliché in Suid-Afrika geword van die ANC om die ANC-regering se foute en onbeholpenheid op Apartheid te blameer. In werklikheid weet ons almal dat dit ‘n sagte manier is om die skuld op die witman te plaas. Om spesifiek te wees, wit Afrikaner mans.

Dit is blykbaar iets wat die ANC in die res van Afrika geleer het. ‘n Vriend vertel dat hy onlangs in Mosambiek was. Hy vra toe een van die Mosambiekers hoekom hulle paaie so sleg is. “Want die Portugese het slegte paaie gebou” kom die antwoord ewe ernstig. En dit is die probleem van Afrika. Solank daar iemand is om te blameer vir huidige probleme, gaan daar niks aan enige probleem gedoen word nie.

Die ANC se Lulu Xingwana het na die Oscar Pistorius insident ook besluit om op die wa te spring en die skuld vir Pistorius se skiet voorval op Afrikaner mans te pak op Australiese TV. Dit het ‘n hewige storm tot gevolg gehad met verskeie organisasies en persone wat haar van haatspraak aangekla het en die HNP wat haar selfs van Crimen injuria aangekla het. Sy het liggies terug geskarrel en ‘n half hartige verskoning aangebied, maar die skade is reeds gedoen en die persepsie is geskep: Afrikaner kultuur en geloof moet die skuld dra vir Oscar se optrede.

Hierdie taktiek van die ANC om die skuld te plaas op Afrikaners vir probleme in die land, koop die buitelandse media klaarblyklik hoek en sinker. Die “Time magazine”, een van die grootste tydskrifte in die wêreld se Afrika correspondent, Alex Perry skryf in ‘n voorblad artikel in Time oor die Oscar Pistorius insident ook die blaam vir die insident toe aan Afrikaners. Hierop het Sunette Bridges ‘n netjiese antwoord aan hom geskryf, gebaseer op feite en nie op dagdrome soos sy eie stukkie ANC propaganda nie. Die skade is egter reeds gedoen en die persepsie is geskep: Oscar se Afrikanerskap is te blameer vir sy optrede.

Maar is Oscar ‘n Afrikaner. Sy huistaal is Engels. Hy beskryf homself waarskynlik as ‘n Engelse Suid-Afrikaner. Van Afrikaner wees, weet hy waarskynlik net so min as ‘n kat van saffraan.

Piet Potlood