Strafregtelike klagte gelê teen Tony Ehrenreich


TLU SA het strafregtelike klagtes by die Brooklyn polisiekantoor in Pretoria gelê teen die hoofsekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap.

In die beëdigde verklaring wat mnr. Henk van de Graaf namens TLU SA gelê het, verwys hy na mediaberigte waarin Ehrenreich sê dat boere wat hulle werkers afdank, se grond van hulle afgeneem gaan word.

In Januarie vanjaar het Ehrenreich ook gedreig dat “’n grondoorlog op pad” is. “TLU SA en sy lede is van mening dat dit neerkom op intimidasie, en dat dit selfs gewelddadige afneming van plase impliseer, aangesien daar geen statutêre proses bestaan waardeur plase sommer net afgevat kan word nie,” sê mnr. Van de Graaf in sy verklaring.

“Waar Ehrenreich ook met vorige stakings in die landboubedryf betrokke was, wat tot geweld gelei het en waardeur boere geweldige skade gelei het, is TLU SA van mening dat uitsprake soos hierdie ook neerkom op aanhitsing tot geweld teen boere en hulle eiendom en dat die saak gevolglik volledig ondersoek moet word ten einde vervolging te kan instel,” lui die verklaring.