Richard III se Skelet Opgegrawe.


Beendere wat onder ‘n parkade in Leicester, Engeland gevind is, is nou onomstootlik bewys dat dit die oorblyfsels van die laaste Plantagenet koning van Engeland, Richard III was.

Die koning, wat deur William Shakespeare in sy drama die bekende woorde: “A horse, a horse, my kingdom for a horse,” uitroep, is in die Geveg van Bosworth in 1485 dood. Sy dood wat die einde van die van die Oorlog van die Rose beteken het, het Henry II op die troon geplaas wat die begin van die heerskappy van dieTudorkonings in Engeland was.

Richard, wat deur Shakespeare as ‘n tiran uitgemaak was (hy het onder die bewind van die wenners, die Tudors geskryf) het hom ook van moord op twee jong prinse beskuldig. Tot laat in die twintigste eeu is die openingsmonoloog van Shakespeare se Richard III as tekenend van die koning se karakter gesien.

Die bekende monoloog open met:

“Now is the winter of our discontent
Made glorious summer by this sun of York;
And all the clouds that lour’d upon our house
In the deep bosom of the ocean buried.”

En later …

“And therefore, since I cannot prove a lover,
To entertain these fair well-spoken days,
I am determined to prove a villain”
Moderne historici sien Shakespeare se drama vandag as net deel van ‘n dramatiese plot in ‘n sensitiewe politieke omgewing en dat sy karakterweergawe van die koning nie ooreenstem met bekende feite van die koning se lewe nie, wat homself op talle maniere as ‘n verligte en progressiewe koning bewys het.

Die opgrawings is verlede jaar Augustus begin en die skelet is op 68cm opgediep. Behalwe vir die voete wat weg was, was die oorblyfsels in ‘n besonder goeie toestand gewees en kon die scoliose wat sy ruggraat verkrom het, duidelik gesien word. Die posisie van sy hande het daarop gedui dat sy hande vasgebind was toe hy in vlak graf begrawe is.

Maar die span wat vir die opgrawing verantwoordelik was, het verder gegaan en forensiese spanne gekry om die skedel op te bou. Die gesig is vroeër vandeesweek onthul. Dit wys dat die kontroversiële koning aangenamer en jonger was as wat in portrette van hom gesien word. ‘n Gesig ver verwyder van die koelbloedige moordenaar wat Shakespeare van hom gemaak het.

Phillipa Langley, ‘n lid van die Richard III-vereniging wat aan die spits van die opgrawings gestaan het, het die volgende van hom gesê: “Sy gesig is definitief nie die gesig van ‘n tiran nie. Trouens, hy is nie net aantreklik nie, maar hy boesem vertroue in.”