Pistorius pleit onskuldig


Volgens die regsverteenwoordiger van Pistorius, Adv. Barry Roux SC, is daar geen rede waarom sy kliënt nie onskuldig sal pleit nie.

Die staat het besluit om Pistorius se aansoek om borgtog teen te staan. Die opmerking is gemaak dat Pistorius alles met voorbedagte rade beplan het. Die staat se saak word behartig deur die bekende adv. Gerrie Nel, voormalige hoof van die Skerpioene in Sentraal Transvaal.

Beide die regsverteenwoordigers is bekend vir hulle vermoë om regsake te hanteer.

Dit blyk dat Reeva nog geleef het toe Oscar haar in sy arms gedra het terwyl hy hulp gaan soek het.

Intussen is berig dat ’n voormalige vriendin van Pistorius, Samantha Taylor, se vader gesê hy is dankbaar dat sy dogter veilig is en nie meer in ’n verhouding met Oscar is nie.

Jane Celliers, ’n direkteur van Ice Models in Johannesburg het ’n kontrak gehad met Reeva Steenkamp. Sy het gesê dat Steenkamp en Pistorius se verhouding gelukkig gelyk het.

Tydens Pistorius se verskyning in die hof het hy telkens in trane uitgebars en was deurgaans baie gespanne.

Die gebeure het wêreldwyd opslae gemaak en die nuus is oorheers deur die tragiese voorval. Borge van Pistorius benader die aangeleentheid met omsigtigheid en verskeie advertensies is reeds verwyder uit die openbare oog.

’n Gedenkdiens is Dinsdag in Port Elizabeth gehou vir die vermoorde Reeva Steenkamp.