Onthou Majuba

“MAJUBA HET VIR DIE BRITTE DIE SIMBOOL VAN ‘N NEDERLAAG GEWORD, ‘N SIMBOOL WAT VERNIETIG MOES WORD, ‘N NEDERLAAG WAT GEWREEK MOES WORD.” – DR. J. GROBLER

Vir Brittanje, een van die magtigste moondhede in die negentiende eeu, het die Boere aan die suidpunt van Afrika gelyk soos ‘n pasgebore vulletjie wat hands grootgemaak kon word. Min het hulle geweet dat hulle een van die taaiste perde in hulle militêre geskiedenis sou opsaal toe hulle in 1877 die Zuid-Afrikaansche Republiek annekseer.

Dit was ‘n sondagoggend net na sonop, 27 Februarie 1881. Die agterosse van die Britse troepe het skaars op ‘n klip op die kruin van die Majubaberg gaan sit om hulle gesigte af te spoel toe die Boere die beweging op die berg opmerk. Sowat 150 burgers het onder bevel van kommandant Joachim Ferreira die 405 Britse troepe van General Colley begin bekruip… Om eenuur die middag het die voorste Boere die Britse verdedigers van die noordelike kruinrand onkant gevang en losgebrand op die ontnugterde Britse soldate. Chaos het losgebrand op die kruin van die berg en na ongeveer 20minute van vlugtende Britse soldate het die Boere vinnig die kruin oorheers. Die Boerperd het sy finale noodlottige bokspring gegee. Die Britte het geval.

Hierdie trotse gebeurtenis in ons geskiedenis word jaarliks die laaste naweek in Februarie gedenk. Volksgenote kry die geleentheid om eiehands by die Majubaberg te kom ervaar hoe die Boere daardie sondagoggend moes voel toe hulle die Britte van hulle rug afgeslinger het. ‘n Feestelikheid heers onder ons mense wanneer almal saam aan die voet van die berg kamp, deelneem aan volksaktiwiteite en sommer net die teenwoordigheid en goeie geselskap van ons eie kan geniet.

Boerekinders loop vrylik rond en speel kleilat sonder dat ouers hoef bekommerd te raak oor volksvreemde gevare. Grootmense loop van kampvuur tot kampvuur en knoop interessant gesprekke oor ‘n koppie boeretroos aan. Kom geniet die naweek en vier ons trotse geskiedenis saam die Volk wat jou taal praat!

Vir meer inligting, gaan na www.majubafees.co.za