Nuusflitse


• Luidens ’n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap is alle tariewe by tolhekke aangepas in ooreenstemming met die verbruikersprysindeks vir die voorafgaande 12 maande. Die tradisionele vier voertuig klasse – klas 1 (ligte voertuie), klas 2, klas 3 en klas 4 (almal swaar voertuie) – geld steeds en die verhoging tree Maart in werking.
• Hoekom, vir soveel jare, het pres. Zuma nie sy politieke gesag gebruik om ’n premier soos Ace Magashule te vervang nie? Dit is ’n vraag wat in die parlement gevra is aan die president.
• Inwoners van Orange Farm het hul asblikke by die huis van hul wyksraadslid, Lindelwa June Nhose, gaan leegmaak, is berig. Inwoners het betoog oor die gebrek aan vullisverwydering in die gebied. Volgens hulle is hul vullis sedert 16 Desember verlede jaar nie verwyder nie.
• Minstens 60 mense is dood toe ‘n motorbom naby die hoofkwartiere van Sirië se regerende party ontplof en wydverspreide skade veroorsaak het. Dié aanval het die meeste lewens nog in Damaskus geëis sedert opstande in die land begin het.
• Die WKOD het opvoeders jammerlik gefaal,” het Pieter Coetzee, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), gesê. “Dit is tien jaar sedert die departement hom tot ’n regstelling verbind het. Steeds het hulle nog niks daaraan gedoen nie.” Die nasionale onderwysdepartement het tien jaar gelede resolusies onderteken waarin hy onderneem het dat onderwysers wat ervaring in private skole opgedoen het of in beheerliggaam poste gewerk het, vergoed sal word wanneer hulle weer by die staat in diens tree. Dit het nie gebeur nie en honderde onderwysers wag op vergoeding.
• Kinders van Sterkspruit in die Oos-Kaap gaan al sedert 11 Februarie nie skool toe nie omdat betogers in die gebied dit vir hulle onmoontlik maak.
• Die Departement van Minerale en Energie sal na verwagting volgende week ‘n petrolprysverhoging van minstens 75c per liter aankondig. Dit maak brandstof die duurste nog en is volgens kenners nog nie op ’n hoogste vlak nie.
• Israel se department van verdediging sê ’n proeflopie met die Arrow-teenmissielstelsel was suksesvol. Dié toets is in samewerking met die Amerikaanse weermag gedoen.
Die Arrow-stelsel moet Israel teen ’n moontlike Iranse aanval beskerm. Die Arrow – wat deur Israel Aerospace Industries en Boeing vervaardig word, kan ’n afgevuurde missiel bespeur en dit dan vernietig.
• ‘n Aardbewing wat 6,2 gemeet het, het die ooste van Japan geruk, maar geen tsoenami waarskuwing is in die land uitgereik nie.
• Talle historiese straatname in Johannesburg sal in die slag bly as die aansoek vir naamsverandering wat deur die Sentraal Transvaalse premier gesteun word, die groen lig kry. Nomvula Mokonyane, die provinsie se premier, het gister in haar provinsiale rede gesê haar regering wil voor einde vanjaar Commissionerstraat in die Johannesburgse middestad na Albertina Sisulu, vrou van die voormalige ANC-leier Walter Sisulu, noem.
• Nege mense is in Melmoth, Natal in hegtenis geneem in verband met wildstropery, het die polisie in die provinsie gesê. Die groep, wat twee tieners insluit, is na bewering betrap met vier dooie bokke, twee haelgewere, ‘n byl, ‘n pistool en ammunisie in hulle besit.
• Pres. Raúl Castro van Kuba (81) se herverkiesing as staatshoof vir ’n volgende vyf jaar is ’n goeie illustrasie van die werking van dié land se “sosialistiese volksdemokrasie”.
• Altesaam 19 toeriste is dood toe ‘n lugballon wat oor die antieke Egiptiese stad Luxor gevlieg het, ontplof het. Die toeriste was onder meer van Hongkong, Japan, Frankryk en Brittanje.
• Die Sweedse meubel vervaardiger Ikea het sy gewilde vleis frikkadelle uit 24 lande onttrek uit vrees dat die gewilde kossoort perdevleis kan bevat.
• ’n Britse stadsraad het besluit om afsonderlike toilette vir mans en vroue af te skaf. Voortaan sal mans en vroue saam die toilet besoek. Luidens ’n peiling steun slegs sowat 5% van die munisipaliteit se bevolking die stap.