Nog ’n vetplant vir die hitte: Hoodia gordonii…..


Hier het ons weer ’n skaars plant wat ons nie sommer in ons eie omgewing sal vind nie. Die Hoodia groei natuurlik in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Hy is vir die eerste keer in 1779 in die Oranje Rivier distrik ontdek. Hy is van die Stapelia familie. Dit is ’n vetplant met stekelrige blare/takke met blomme wat lyk of dit vasgesteek is aan die plant. Die blomme lyk kunsmatig en dit lyk of dit van ou harde loof gemaak is. Dit lyk dan ook of die blomme hard en krakerig is, maar dit is nie en vertoon pragtig aan die plant.

Hy het ook nogal medisinale waarde en die Boesmans in die Kalahari het hierdie plant geëet wanneer die jag onsuksesvol was. Dit neem ook die hongerpyne weg, en is dus sommer terselfdertyd ’n eetlusdemper. Die plant word ook gebruik deur hulle vir indigestie en infeksies. Moet egter nie van die plant se blare en blomme in die veld versamel en probeer eet nie. Die ou plante is nie bruikbaar nie.

Die Suid-Afrikaanse boere het hierdie plant aan die Amerikaners verkoop teen so +- US$30 per kilogram. In 2007 is daar al 300 produkte wat wêreldwyd verkoop word teen ’n nog hoër prys per kilogram. Die plant word verwerk vir medisinale gebruike, en kom voor in kapsulevorm, tablette, tinkture, tee, koffie, stroop en ook in vrugtestafies.

Onthou dat dit amper tyd is om ons blombolle te plant. Pronkertjies kan nou nog gesaai word, voor die herfs aanbreek. Geniet elke oomblik in u tuin.