Natal hospitale se hulp droog op


Die Natalse Provinsiale Gesondheidsdepartement sal in die toekoms sonder buitelandse finansiële hulp moet klaarkom en hul uitgawes self befonds.

Buitelandse donateurs se bydraes word gestop weens verskillende redes.

Die LUR, Sibongiseni Dhlomo, sê glo dat die hulp gestaak word omdat “Suid-Afrika nou ’n vry land is en dus nie verder gehelp kan word nie.”

Voortaan sal die Departement vir meer hospitale moet betaal wat voorheen deur buitelandse skenkers befonds is, het The Mercury rapporteer.

Sibongiseni Dhlomo, het bekend gemaak dat die Departement verskeie hospitale sal oorneem en self befonds.

Van die hospitale was op die punt om te sluit nadat fondse van ‘n Amerikaanse skenker opgedroog het.

Die departement oorweeg ook die moontlikheid om die St Aiden’s-hospitaal in Durban te koop.

The Mercury het berig dat 12 ander hospitale in die toekoms deur die provinsie oorgeneem sal word.

Waarnemers meen egter dat skenkers ontevrede geraak het met die wyse waarop fondse verkwis is en dus nie vêrder hulp wil verleen nie. Die skenkers weet immers dat die land reeds sedert 1994 “ ’n vry land is” en moes 19 jaar gelede al die skenkings gestaak het as dit die oorweging is.