Mag onderwysers staak?


Hoekom is daar altyd ‘n heftige reaksie wanneer onderwysers staak? Hulle reg om te staak is sekerlik in ons “Wonderlike nuwe Grondwet” ingeskryf. Hulle word verteenwoordig deur vakbonde en die manne van die “Unie” is tydig en ontydig op die voorgrond om te beding vir hulle regte.

Hierdie kwessie het egter ‘n anderkant-van-die-munt….. die leerlinge vir wie daar skoolgehou moet word. Hierdie kinders het sekerlik ook ‘n “Grondwetlike reg” om onderrig te word! Indien die onderwysers nie opdaag om hulle daaglikse taak te verrig nie, doen hulle die jong burgers van more ‘n groot onreg aan.

Die onderwyser is die senior vennoot in die onderwysgebeure en die leerling, die junior.
Die kinders is ook nog nie ver gevorder op hulle pad na volwassenheid en gevolglike verantwoordbaarheid nie en daarom sal ‘n staking of enige soortgelyke gebeure in feitlik al die gevalle groot druk plaas op die kinders se optrede. Moet leerlinge nou tuis bly en in die meeste gevalle sonder toesig die tyd verwyl? Dit het al gebeur dat ‘n onderwyseres haar kinders by hulle skool aflaai ( ‘n skool wat nie bereid is om sy leerlinge vir die wolwe te gooi nie) en dan net om die hoek ry om te gaan betoog in die buurskool se oprit.

Interessante leesstof is te vind in die Navorsingsverslag van Nic Spaull van die Universiteit van Stellenbosch. Sy verslag is getiteld “ A Tale of Two Systems “ en hieruit kom statistiek
na vore wat die huidige optrede van onderwysers in ‘n groot mate verklaar.( Hierdie verslag is volledig te vind op die Webadres www.politicsweb.co.za ). Dit is ‘n lywige verslag wat al aan die einde van Augustus 2012 verskyn het.

Skole wat bestuur word volgens bewese opvoedkundige dissiplines, sal voorsiening maak vir gebeure waartydens die onderwysers afwesig mag wees bv. tydens ernstige siekte of dalk ook dood in die familie. Indien ‘n langer tyd van afwesigheid mag ontstaan, sal gereël word vir ‘n plaasvervanger. Sulke skole tree verantwoordbaar op en daar is geen lydende party nie. Leerlinge aan hierdie skole verstaan die wese van respek en dissipline.

Onderwysers wat hulle werk as ‘n roeping beskou en nie ‘n beroep nie, sien hulleself ook as opvoeders en hierdie opvoeders het gewoonlik geen begeerte om te staak nie.