Jongman sterf na hy die “ja-woord” kry


’n Skrander, jong onderwyser van Bloemfontein, Paul Jenkinson (27) wat sy vriendin verlede Vrydag gevra het om te trou, is dieselfde aand in ’n motorongeluk dood.

Paul was ’n onderwyser aan die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein.

Sowat twee km van sy vriendin, Anell Labuschagne (24), se ouerhuis af het sy bakkie vermoedelik teen ’n stilstaande voertuig in Tielman Roosstraat gebots.

Sy vriendin was saam met hom in die bakkie toe hy oor die bult ry, het twee voertuie dwars in die pad gestaan. Hy het probeer wegswenk, maar het een getref. In die ongeluk is hy uit die voertuig geslinger en die bakkie het oor hom gerol.

Paul het die afgelope nege jaar met Anell uitgegaan. Hulle was van plan om binnekort verloof te raak en wou teen die einde van die jaar getrou het.

Paul is op die ongelukstoneel deur paramedici gestabiliseer maar het later in die Mediclinic Bloemfontein aan sy beserings beswyk.