Heidelberg word geterroriseer


‘n Vrou is helder oordag deur twee mans in die strate van Rensburg, Heidelberg, aangeval. Trudie Bornman (44) is omstreeks 16:30 in Romynstraat, agter U Save geskop, gebyt en met ‘n mes gedreig.

Sy was op 6 Februarie vanaf Laerskool AG Visser onderweg na haar huis toe sy vir ‘n goue hangertjie om haar nek aangeval is. Sy vertel dat sy Romynstraat geloop het, toe ‘n egpaar van Rensburg by haar verbygestap het. ‘n Ent verder het sy twee mans van tussen 27 en 30 jaar aangestap sien kom. Trudie sê sy het dadelik onrustig gevoel en toe een van die mans na haar nek wys, het sy gedink hulle wil haar kaalafsny.

Die volgende oomblik was hulle op haar en het probeer om haar hangertjie af te ruk. Hulle het haar skrams met die mens onderkant die ken geskraap, haar bokant haar linkerbors gebyt en haar in die maag geslaan. Toe sy begin gil, het die egpaar omgedraai en op die aanvallers geskreeu.

Trudie het intussen op die grond neergeval waar die verdagtes haar geskop en daarna die hasepad met die hangetjie gekies het.

Die egpaar het haar te hulp gesnel en die polisie ontbied. Die aanvalles was egter teen die tyd skoonveld.

‘n Gesin van Jordaan Park is vroegaand op 5 Februarie 2013 in hul huis deur vier gewapende mans oorval. Die huiseienar was om 18.30 besig om in sy motorhuis te werk, toe hy ‘n onbekende Volkswagen Golf sien inry. Twee verdagtes het wapens om hom gerig en beveel om te gaan lê. Een van hulle het die buitelig stukkend geslaan en die eienaar in die motorhuis toegesluit. Die ander twee verdagtes is die huis in waar hulle die vrou van die huis in die badkamer ingedwing het. Hulle het weggekom met twee TV-stelle, ‘n skootrekenaar, juwele en die gesin se drie voertuie. Twee van die voertuie, ‘n Volvo en Kia Serato, is later in Duduza en Tsakane opgespoor. Die gesin se silwer Toyota Land Cruiser is nogsteeds soek.