Begroting: Staatskuld wek kommer


TLU SA het begrip daarvoor dat die Minister van Finansies nie baie beweegruimte gehad het met sy begroting nie.

Wat TLU SA egter die meeste bekommer, is die toename in die staatskuld. As die Staat staatsdiefstal beheer sal dit nie nodig wees om geld te leen nie. Hy beoog om meer uit te gee as wat hy gaan inkry. Hierdie meer uitgee as wat ingekry word is besig om ‘n patroon te word. Hierdie geld sal deur lenings bekom moet word. Lenings moet terug betaal word en hoe meer geleen word hoe moeiliker raak dit om dit terug te betaal.

Die arbeidsonrus by Marikana en in die Wes-Kaap het veroorsaak dat die buiteland nie meer in mynbou in Suid-Afrika wil belê nie en besig is om te onttrek. Landbou is besig om te herorganiseer. Die hoër lone in die twee bedrywe gaan die land waarskynlik tussen 300 000 en 500 000 werksgeleenthede kos. Dit gaan die Staat se verwagte groeikoers moeilik haalbaar maak. Dit weer gaan terugbetaling van skuld bemoeilik.

Daar is te min besparingsmaatreëls aangekondig vir die Staat self. Terwyl die sogenaamde rykes beboet word vir hardwerkendheid en produktiwiteit, kan die Staat voortgaan met sy dikwels buitensporige uitgawes.

Ons moet ons nie self op die skouer klop dat ons staatskuld net 38,6% van GDP gaan wees nie. Die syfer sluit nie die miljarde se Munisipale skuld in nie.

Die Staat is besig om die land al minder kompeterend te maak met sy beleid. Die pas aangekondigde landbou loonsverhogings gaan die land voedselafhanklik maak. Marikana en die Staat se onvermoë om die situasie te hanteer maak baie myne in Suid-Afrika onbetalend en die impak daarvan sal weerspieël word in ‘n swakker Rand weens minder uitvoere, minder belastinggeld om staatskoste te befonds en geweldige toename in werkloosheid.

Die koste om besigheid te doen in die land raak te hoog weens onder andere ‘n Eskom wie se koste buite beheer is. Die begroting was die ideale geleentheid om aan te kondig dat Eskom geprivatiseer word sodat koste tot voordeel van die landsekonomie kan verlaag. Die hoë Eskom koste is besig om voedselsekerheid te bedreig.

TLU SA is van mening dat die verhoging in brandstofheffings ‘n ekonomiese demper gaan wees, wat veral landbou hard gaan tref. Waar die lae waarde van die Rand en die hoë olieprys reeds gelei het tot rekord hoë brandstofpryse, is die bykomende 23 sent aan brandstofheffings onvanpas.

Die hoeveelheid belasting wat werklik deur belastingbetalers betaal word, word nie regtig in die begroting weerspieël nie. As informele belasting ook in aanmerking geneem word, is belasting besig om die ekonomiese groei drasties te beïnvloed.

Die onvermoë van die Staat, soos die praktyk uitwys, om effektief te regeer, korrupsie en misdaad te bekamp, vergestalt nie in ‘n begroting nie. Die belangriker vraag is of daar gelewer kan word.

Die uitbreiding van sosiale toelaes is nie volhoubaar op die lang termyn nie. Weens verkeerde ANC-beleid word sosiale toelaes al meer terwyl werkgeleenthede verminder. Om dié situasie reg te stel sou verwag kon word dat die Staat arbeid minder moet reguleer.

“Suid-Afrika het nou ekonomiese stabiliteit nodig en kan geen finansiële eksperimente bekostig nie. Landbou kan ‘n wesenlike bydrae maak om ‘n groot mate van ekonomiese stabiliteit te verseker, mits landbou nie as proefkonyn gebruik gaan word vir mislukkende politieke doelwitte nie,” sê mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President.