Beesvleis dalk ou perd?


Mnr. Gerhard Schutte sê Suid-Afrika het streng wette, ¬reëls en regulasies wat verbruikers beskerm en die Rooivleis-produsente Organisasie (RPO) het nie klagtes ontvang van verbruikers oor die moontlikheid van perdevleis onder die vaandel van beesvleis nie.

Dit was sy reaksie as Uitvoerende Hoof van die RPO, oor die skandaal wat Europa en Brittanje getref het.

Perde-DNS is in klaargemaakte beesvleis-produkte gevind wat in winkels te koop is regoor Europa.

Schutte het gesê in Suid-Afrika maak die Verbruikerswet dit baie duidelik dat verbruikers “nie verras moet” word deur wat hulle eet nie.

Die Suid-Afrikaanse Wet op Etikettering vereis dat duidelik gespesifiseer word wat in voedsel is, terwyl die Wet op Landbouproduk standaarde bepaal wat in kos gebruik mag word.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het aan Die Vryburger gesê dat die wetgewing in Suid-Afrika uitstekend is, maar daar is geen waarborg dat instansies nie dalk die wet probeer omseil en voedsel die land inbring op ’n wyse soos wat sigarette die land in gesmokkel word nie.