Weeskind duikertjie kry maatjie


’n Wees baba-duikertjie, wat gered is toe honde haar wou aanval, het vertroosting by ’n hasie as vriendin gevind.

Die wees bokkie is kort voor Kersfees na die Cheetah Experience, ’n tuiste vir beseerde diere buite die stad, gebring.

Sy het die naam “Mrs Paddy” gekry en is gelukkig nie beseer voordat sy gered is nie.

Die bokkie was gelukkig in haar nuwe omgewing maar slaaptyd het sy na haar ma verlang met ’n gehuil.

Sy het met skreeu-geluidjies na haar ma geroep, vertel Riana Nieuwenhuizen, die stigter van die sentrum.

Haar diere-oppassers moes ’n plan maak om ’n maat vir haar te vind.

’n Sagte hasie met lang, slap ore is gekoop om die bokkie te bemoedig.

Mrs Paddy en Perry, die hasie, het sommer gou maats geword. Bedags doen elkeen sy eie ding, maar saans slaap hulle by mekaar.

Die pragtige bokkie het opgehou huil. Hulle slaap styf teen mekaar.