Warm patat!


‘n Vreeslike lelike besigheid het hom afgespeel in Natal verlede week. In ‘n kombinasie van die tv-realiteitsreekse Fear Factor en Biggest Loser is die werkloosheidsyfer met ses verminder in een dag! Deur ‘n proses van eliminasie is toe deur die verkeerdsdepartement bepaal wie definitief nie verkeerdskonstabels gaan word nie.

Daar was 90 poste beskikbaar en 34 000 aansoeke. Op ‘n manier moes van die swakker kandidate uitgesif word, en die departement het die ideale manier gehad!

Stap 1: Reël ‘n fiksheidstoets twee dae na kersfees. Op hierdie manier weet jy dat die meeste van jou deelnemers steeds ly aan die gevolge van brassery, steeds so dronk is dat hulle dink dat hulle aan Gladiators deelneem of nog probeer herstel van alkoholvergiftiging.

Stap 2: Maak seker dat daar nie naastenby genoeg skaduwee, water of mediese hulp beskikbaar is in die 31ºC toestande nie en dat almal oorgenoeg son kry.

Stap 3: Oortuig die dronkstes van die spannetjie dat hulle net oor die bultjie in ‘n ysige sneeustorm in gaan hardloop sodat hulle op een slag al die klere aantrek wat hulle in die laaste jaar gesteel kon kry.

Stap 4: Gee hulle 25 min om met hul dronk, oorgewig, ontwaterde, songesteekte, alkoholvergiftigde en multi-laag geklede lywe 4 km sonder voggies af te lê as hulle die kans wil staan om honderde duisende rande in omkoopgeld per jaar te verdien.

Stap 5: As een van die pokkels omkap langs die pad, bel ‘n staatsambulansdiens sodat die warm patat die nodige wanbehandeling kan kry sodra dit selfs vir die korrekte behandeling te laat is.
En Siedaar! Die swakstes is uitgeskakel, die volgende groepe wat moes kom toets is afgeskrik en die negentig wat die hoogste bedrae bie, kry die werk!

Laat dit nooit gesê word dat die verkeerdsdepartement onbevoeg is nie! Ongelukkig is daar taamlik ongelukkigheid oor die hele “ses-mense-is-dood” situasie en gaan die fiksheidstoets, soos sy slagoffers, ook seker sneuwel.
Hoe dit ookal sy, as u deur ‘n konstabel afgetrek word oppad terug van u poging om van die NSA te vergeet, behoort u te waardeer wat hy moes deurmaak om sy werk te kry!

Tot volgende slagting

Die Sweep