Vryheid geoffer op die Altaar van die Euro. 2012 oorsig.


Die Eorsosone skuldkrisis is besig om sy tol te eis. Onverantwoordelike optredes deur banke waarvoor die belastingbetaler moet instaan wat slegs die instandhouding van EU en die banke ten doel het, is besig om die 27 lidlande uitmekaar te dryf. Die eerste uit mag Brittanje wees.

Indien daar vandag ‘n referendum gehou word, sou 56% ten gunste van ‘n breuk met die EU wees. Die EU het natuurlik geen geduld met die wense van gewone mense nie. In die meeste van die lidlande geskied belangrike besluite w.o. ratifikasie van EU-ooreenkomste, die skrap van ‘n land se geldeenheid, of hulp aan banke,d.m.v. parlementêre stemming. In die paar uitsonderings waar die mense toegelaat was om te stem, het dit die “slegte tendens” gehad om teen die wil van die politici, bankiers en selfverkose burokrate te gaan.

Die Lisabonverdrag het ten doel gehad om alle bestaande verdrae te herroep en dit te vervang met ‘n Europese Grondwet wat belangrike ooreenkomste (veral rondom nasionale souwereiniteit) sou oordra na onverkose EU-burokrate en hulle institusies. Onderhandelinge het in 2001 begin en teen 2005 het ‘n meerderheid van lidlande dit deur parlementêre stemming geratifieer.

Maar in Frankryk het die mense geleentheid gekry om, nadat die parlement dit met ‘n stemming 93% goedgekeur het, deur ‘n referendum hulle mening te gee. Wat vir die elite ‘n eenvoudige stap sou wees, het ‘n geveg ontketen wat die Sosialistiese Party geskeur het. Die mense wat ten gunste van hulle soewereiniteit was, het die ratifikasie met 55% stemme gekeer. Ook in die Nederlande het ‘n soortgelyke scenario gebeur. 2005 was die jaar wat die woord referendum ‘n vloekwoord in die Europese leksikon geword het.

Die les is geleer: moenie dat Jan en alleman besluite neem nie. Sulke belangrike sake kan slegs deur die politici, bankiers, ens. geneem word. Dus moes hulle grootskaalse skadebeheer toepas. Talle van die maatreëls in die mislukte grondwet is heraangebied as hervormings in ‘n afgewaterde ooreenkoms. Dit was in 2008. As ‘n voorsorgmaatreël was die snipperige snuiters in Frankryk en Nederland nie toegelaat om te stem nie. Die Iere kon egter, en toe stem hulle op hulle beurt daarteen. Ook hulle wou hulle swaarverdiende en met bloed gekoopte soewereiniteit behou.

Maar toe kom die finansiële krisis. Die Iere het geskrik. Hulle banke was in die moeilikheid en die ekonomie het suidwaarts gegaan. Dus was daar weer ‘n referendum nadat die regering sekere konsessies onderhandel het. Die Iere het van plan verander en die verdrag het op 1 Desember 2009 ‘n werklikheid geword.

Europese politici vrees ‘n referendum want dit bedreig hulle heerskappy. Vroeg in November verlede jaar, tydens die G-20 byeenkoms in Cannes, het die destydse Griekse Eerste Minister, George Papandreou hierdie vrees gebruik in ‘n poging om meer geld vir sy land te kry. Hy wou dat die Grieke in ‘n referendum stem vir verdere drakoniese benoeingsmaatreëls terwyl die huidige reeds besig was om hulle te verwurg.
Die dreigement het finansiële markte deur die wêreld in ‘n afwaartse spiraal gegooi. Die euro het gedaal en dit het ‘n nuwe woord geskep: papandemonium.
Maar van die dreigement is vinnig korte mette gemaak. Duitse Kansellier, Angela Merkel en die destydse Franse President, Nicolas Sarkozy het Papandreou na ‘n “Franse ete” genooi. Na die afloop daarvan het hulle begin om alle sprake van die referendum dood te druk. Hulle sal geen betalings meer aan Griekeland doen nie en vir die eerste keer is Griekeland se uitsmyt uit die EU geverbaliseer.
Die gevolg was parlemetêre chaos in Griekeland. Politici in Papandreou se party het teen hom gedraai. Hy is uit sy amp geskop en teen die tyd dat die tussentydse regering oorgeneem het, was die idee van ‘n referendum onder die mat gevee.
Politici haat die idee dat mense ‘n geleentheid kan kry om hulle delikate planne te fnuik, wat met soveel finesse agter geslote deure geformuleer is en met soveel lieflike woorde en ideale aan die niksvermoedende massa opgedis word.
Maar, vandag kyk ook die Britte skepties na die EU wat al hoe nader aan hulle turf beweeg. Tog, het die EU 27 lande verenig wat vir eeue teen mekaar oorlog gevoer het, lank voordat die begrip van ‘n nasiestaat ontstaan het. Maar toe het die skuldkrisis gekom en nou dreig daardie familie van nasies om uitmekaar te skeur omdat daar besluit is om van die euro ‘n religieuse dictum te maak en geen prys te hoog is om dit te red nie.