Vlamlelie vir die tuinier


Die vlamlelie is ’n rankplant met geel en rooi blomme wat omkrul en die stuifmeel lyk dan of dit aan die onderkant sit. Daar is ook ’n meer bosserige vlamlelie wat heeltemal geel blomme dra. Dis ’n pragtige plant en groei vreeslik weelderig in Natal by die kus en word soms aangetref onder die bosse by die duine reg langs die see. Dit word ook in die bosse en berge by die Kaapse kus, Swaziland, Botswana, Suidwes-Afrika, en Rhodesië aangetref en verkies skaduwee.

Die plant groei van saad wat in September/Oktober gesaai kan word. Dit neem egter tot 4 maande op te ontkiem! Saai die saad sommer direk in die grond op die plek waar u die plante wil hê. Hulle is klimplante en sal in die bome oprank. Hul maak bolle onder die grond en hierdie bolle is langwerpig en lyk soos ’n blaas en is wit. Hulle wil in die somer genoeg water hê, maar as u sien die blare bin geel word, moet die water sommer baie verminder word. In gebiede waar dit vogtig is in die wintermaande, moet die plante nie water kry nie, aangesien die bolle sal verrot. Wanner die plante dormant is, kan die bolle verdeel word. Werk maar versigtig met die bolle want hul is nogal delikaat.

Daar is mense wat hierdie plant medisinaal gebruik vir velprobleme, kneusplekke op die vel en daar word beweer dat die sap van die blare se punte, gebruik kan word vir aknee en ander velsiektes. Die bolle van die plant is toksies, so daar word aanbeveel dat u maar die hande moet was nadat u die bolle verdeel het of met handskoene aan werk in die tuin.

Hiermee ook ’n voorspoedige 2013 vir al die tuiniers