Vat vir jou!


Sasolburg brand en die noorde oorspoel en die land se president skitter in sy afwesigheid soos die son van sy aartappelvormige blink kop. Dit is tog interessant dat wanneer daar probleme in die land veroorsaak word, daar op al die koerantkiekies ‘n stuk of ses kleure van die politieke reënboog ontbreek. Van elke betoger in Sasolburg wat die verwoeste drankafdeling van ‘n winkel met ‘n paar Vat 69’s verlaat het ten aanskoue van die kameras, het ek nie één Boere-omie gesien wat loer oor sy skouer terwyl hy oor sy maatjie spring wie se pankreas deur die skare platgetrap is, om weg te kom nie. Daar is ook op die foto’s nie één foto van ‘n klein Hermantjie of Gerhardjie wat met sy kniekoppe binne-in sy neusgate opgetrek sit en die trane strepies oor sy skurwe maermerries laat loop terwyl sy ouboet besig is om sy skool af te brand oor hulle ‘n ander munisipaliteit kry nie. Nee, die helderder kleure van die reënboog sukkel maar om kop bo water te hou, aangesien hulle geen regeringshulp kry as rampe hul tref nie.

Tog is dit merkwaardig dat wanneer oplossings gesoek word, dit weer bykans net die helder kleure is wat betrokke is, van links na regs. Van diegene wat die krom en vaal reënboog, waarvan die pot goud lankal geplunder is, wil probeer laat werk tot ander wat eerder elke kleur op sy eie wil laat voortbestaan. Zille, al probeer sy “technicolor” voorkom as sy probeer toitoi ten goede, is sy steeds ‘n helderkleurige poging tot oplossing. As Solidariforum ‘n optog reël is dit helder, buiten vir die kere wat hulle Emo Adams kon ompraat om saam te stap deur hom te vertel dat Karlien daar gaan wees met ‘n kort rokkie. Die organisasies wat nie skaam is oor hul helderheid nie se oplossings vir hul mense word natuurlik verswyg soos ‘n boetie in die tronk, as hulle nie op grond van iets belagliks ‘n sel met daardie boetie deel nie.

Die tendens bly maar dieselfde. Die donker kant van die reënboog word al hoe meer gehelp terwyl die naaste wat hulle ooit aan belasting kom die Vat 69 is wat as brandstof dien vir hul verwoesting. Die helder kant moet al hoe meer bydra en oplos terwyl hulle geen hulp ontvang nie, maar van verwag word om uit te deel.

Hierdie dinge brand so gat in die Sweep se maagwande dat ek geneig is om na die brandende land te kyk en aan die regering te sê: Vat vir jou!

Tot volgende slag en gelukkige CDL-dag!

Die Sweep