V.S.A. oorleef “Fiskale Afgrond”


Die wêreldekonomie kan weer asemhaal nadat die wêreld se grootste ekonomie, die V.S.A., se twee politieke partye ‘n tydelike ooreenkoms bereik het. Die Amekrikaanse president, Barak Obama, wat die land al hoe meer na ‘n sosialistiese ekonomie stuur, wou die belastinglas aansienlik verhoog op die welgestelde gedeelte van die bevolking. Obama wil dat alle persone wat meer as $250 000 per jaar verdien hoër belas moet word. Die Republikeinse Party wou dit verhoed en eis dat daar eerder besnoeiïngs in regeringuitgawes moet wees. Die kompromie wat op die laaste oomblik bereik is, is dat hoër belasting eers moet begin op ‘n jaarlikse verdienste van $400 000 vir individue en $450 000 vir getroude paartjies. Die besnoeiïng in staatsuitgawes sal eers teen Februarie 2013 verdere aandag geniet.

Die oplossing is slegs van tydelike aard, want die groot probleem, naamlik staatskuld is steeds nie opgelos nie. Die V.S.A. se openbare skuld staan op byna $16,4 triljoen en oortref die land se Bruto Binnelandse Produk met meer as 100%. Dit is ‘n swakker situasie as die waarin die Europese Unie homself bevind en daar word reeds lankal voorspel dat dit gevaarlike ekonomiese gevolge vir die V.S.A. en die wêreld inhou.

Die V.S.A. se ekonomie is so belangrik vir die wêreldekonomie dat as die tydelike oplossing nie bereik was nie dit nie net die land in ‘n resessie sou dompel nie, maar ook negatiewe gevolge vir die sukkelende wêreldekonomie sou gehad het.