Spinnekop bou interessante lokval.

Deur: Bets Botha

‘n Spinnekopspesie wat ‘n lewensgrootte model van homself bou wat as ‘n lokval vir sy vyande mag moontlik ‘n nuut-ontdekte spesie wees.

Hierdie spinnekop mag ook die eerste voorbeeld wees van ‘n dier wat ‘n lewensgrootte replika van homself bou. So glo die wetenskaplikes wat die ontdekking gemaak en hulle bevindings in Animal Journal gepubliseer het.

Die spinnekop, Cyclosa mulmeinensis se gedrag bied ook ‘n antwoord vir die rede waarom baie spinnekoppe hulle webbe met vreemde ornamente versier. Talle diere probeer om die aandag van aanvallers te ontvlug deur meesters van vermomming te word.

Party probeer onopgemerk bly deur vernuftige kammoflering; ander verlaat hulle op kenmerke wat ‘n vyand se aandag aftrek, bv. skoenlappers met groot kolle op die vlerke en akkedisse wat hulle sterte verloor as dit gegryp word.

Hierdie laaste strategie het bioloë vreemd gevind, aangesien dit gewoonlik ‘n slegte idee is om jou vyand aan te lok.

Maar die belangrikste is dat diere gewoonlik nie ‘n lewensgroot afbeelding maak om die vyand te verwar nie. ‘n Nuut ontdekte spesie van die Cyclosa genus het met hierdie oplossing vorendag gekom om agter ‘n groot, namaaksel van homself te skuil.

Bioloog Phil Torres beskryf die spinnekop se “lyfwag” as volg: “Van ver af lyk dit na ‘n medium grootte spinnekop van ongeveer ‘n sentimeter wat reeds dood en moontlik uitgedroog is. As jy dit egter van naby beskou sien jy dat die “spinnekop” waarna jy gekyk het bestaan uit droeë blare, dooie insekte en ander oorblyfsels.

“By nog nadere beskouing sien jy ‘n klein 5-millimeter spinnekop wat agter sy ‘doppelgänger’ skuil. Hoewel Cyclosa mulmeinensis bekend is vir die vreemde voorwerpe wat hulle in die web bou, lyk dit gewoonlik na grys blobs en eiersakke. Hierdie nuwe namaaksels lyk soos ‘n spinnekop kompleet met agt hangende pote.”

‘n Mens sou dink dat om ‘n namaaksel van jouself te maak kontra-instinktief is. Sekerlik kan dit daarmee vergelyk word om jouself met bloed te besmeer en voor ‘n honger leeu te paradeer. Duidelik egter moet die namaaksel die vyand dermate flous en die spinnekop beskerm dat dit die moeite werd is.

Volgens Torres het sommige lede van Cyclosa ‘n sterker kans op oorlewing teen potensiële vyande soos bv. die perdeby aangesien hulle die namaaksel eerder as die spinnekop aanval. Hy hoop om met ander kundiges saam te werk om vas te stel of die klein spinnekoppie met sy vreemde verdedigingsmeganisme moontlik mag dui op ‘n nuwe spesie.