So uitslag laat mens jeuk!


Dit was die beste van tye, dit was die misleidendste van tye… Dit was vroegoggend toe die minister van onderwys so drillend wakkerskrik van die geskreeu van ‘n Hadida, dat die “Boet en Saartjie” waarmee sy die vorige aand aan die slaap geraak het skoon uit haar hande val en tussen die vetkruite op die vloer gaan lê. Dit pla haar nie eers nie, want sodra sy die slaap uit haar oë gevee en alle versperrings uit haar asemhaalgrotte gedelf het, besef sy… vandag is uitslagdag en die punte gaan goed wees! Nie noodwendig omdat die townshiponderwysers hierdie jaar besluit het om van tyd tot tyd op te daag nie, ook nie omdat die boeke alle skole bereik het nie en ook nie omdat die stelsel soveel verbeter het of hoegenaamd al herstel het van die hele kurrikilum 2005 fiasko nie. Nee, bloot oor haar briljante idee om bloot die standaard so te verlaag dat selfs sy van die vraestelle se vrae kon verstaan.

Sy stap badkamer toe met dié gedagte en glimlag vir haarself in die spieël dat dit lyk of iemand ‘n half-afgeblaaste trekkerbinneband oor haar gesig styfgetrek het. Nadat sy al die tande raakgeborsel en die gapings met ‘n stuk nylontou geflos het, stap sy kombuis toe waar sy vir haar ‘n Beeld laat aflewer het. Die bediende het sommer die plakaat van die lamppaal af ook ingebring. Daarop pryk ‘n wit en swart foto, met swart waar die wit gewoonlik sou wees en wit waar die swart sou wees en ‘n onderskrif wat lees “SA se slimste”. Die minister is nou éérs opgewonde!

Sy gryp die plakaat en forseer haarself so tussen die armleunings van die kombuisstoel in dat die pote verskoningloos deur die beetbevlekte novilon vloer skeur. Die kreun van die houtstoel gaan ongehoord verby onder die oorverdowende “aiaiaiaiaiaiaiaiaiai” van die minister wat deur die lug klief en die buurman se koffiebeker laat bars bo-oor sy splinternuwe verjaardagdas. Die Beeld het toe wraggies gehoor gegee aan haar versoek om haar susterskind as die slimste aan te wys ten spyte van honderde ander leerlinge wat drie en selfs vier onderskeidings meer as sy verwerf het en talle privaat en CVO leerlinge wat eers in Maart 2016 hul uitslae sal ontvang sodat hulle nie die universiteitsopeninge moet opraap nie!

Sy staan op en stap na die ketel toe. “Hiervoor sal ek seker ‘n bonussie kry” dink sy terwyl sy die broodrooster van die kas af stamp met die stoel wat sy onwetend agterlangs nog saamdra en dit maak hierdie uitslag so bevredigend dat dit selfs die ander uitslag, wat sy weke lank al aan krap, draagliker maak…

Tot volgende (uit)slag

Die Sweep