Slawiërs soek hulle eie Bond.

Bets Botha

In ‘n tyd van vinnige Europese en Moslem globalisering, is daar ‘n oproep van sekere groepe Slawiërs dat hulle heil slegs in ‘n Bond van Slawiese Nasies te vinde is.

Volgens Igor Muradjan, ontleder vir die Armeense dagblad Erkramas, word daar reeds sedert Meimaand verlede jaar gepoog om gemeenskaplikhede tussen Serwië en Bulgarye te vind. Daar is sprake van ‘n Unie tussen Serwië, Bulgarye, Griekeland, Masedonië, Montenegro en Siprus. Hy is ook optimisties dat Kroasië en Slovenië deel sal word.

“Die departemente van Verdediging en Intelligensie van Masedonië en Bulgarye het reeds aanbevelings vir gesamentlike projekte ontvang. Daar word op dieselfde grondslag met die ander onderhandel,” het Muradjan gesê.

‘n Bekende politieke wetenskaplike en wetskenner, Alexander Prognimak van die Oekraïne het reeds in Meimaand verlede jaar gesê dat ‘n Bond van Slawiese Nasies die groen lig moet kry. Volgens hom is die enigste pad oop vir die Oekraïne “om deel te word van ‘n Slawiese ‘pandam’ binne die Europese Unie.”

Hy glo ook dat Rusland, Belarus en die Oekraïne nie alleen kan funksioneer nie. “Ons wil nie ‘n pion op skaakbord wees in ‘n spel tussen die weste en die ooste nie,” het hy gesê.

‘n Plus punt is ook die feit dat gedurende die laaste twee dekades daar nie groot botsings tuseen die Katolieke en Ortodokse kerke was nie, wat die integrasie tussen die suidelike en noordelike Slawiërs sal vergemaklik.

Prognimak het alreeds sover gegaan as om ‘n stemstelsel vir die beoogde parlement voor te stel. “Elke land sal gelyke seggenskap hê deur 50 afgevaardigdes te stuur. Voorts sal daar vrye handel onder lede wees en samewerking op doeane- en energie-aangeleenthede wees.”

Die Russiese ambassadeur in Montenegro, Andrej Nesterenko sê dat die idee ernstige aandag moet geniet, veral gesien in die lig van Rusland se nou bande met Montenegro en Siprus.

Hoewel dit op die oomblik nog aan die beginstadium is, is dit nie ‘n onmoontlike saak nie. Daar was vir jare nie onderlinge probleme met die verskillende nasies en groepe in die Balkanlande nie. Die oorlog in Bosnië was deur Navo georkestreer.

Bosnië was eintlik net ‘n probleem terwyl dit die grens tussen Oostenryk en Turkye was, oftewel toe dit uitgelewer was aan groot politieke moonthede wat hulle eie agendas gedien het. Slawiërs het ‘n Keltiese mentaliteit, baie soos Skotse stamme (klanne); hulle is nie baie lief vir mekaar nie, maar loop ook nie gedurig en skoorsoek nie.

Waar daar wel probleme mag wees is tussen die Serwiërs en Albaniërs want Navo wil beheer in Albanië hou as ‘n heroïnsentrum vir Europa. Wat ookal gebeur tussen al die groepe van die verskillende lande wat belangstel, lyk dit asof dit die enigste probleem kan wees, hoofsaaklik omdat die Amerikaners weer hulle neuse daar sal gaan indruk.