SAPD weer in moeilikheid


‘n Johannesburgse prokureur, mnr. Martin Hood, sê hy gaan die polisie dagvaar nadat hy op aanklag van regsverydeling in hegtenis geneem is.

“Die intimidasie het al te gereeld met te veel mense gebeur,” het hy gesê.

Hood is prokureur van die Suid-Afrikaanse Vuurwapeneienaarsvereniging. Hy is tydens ‘n vergadering met ‘n ondersoekbeampte by die Fairlands-polisiekantoor in hegtenis geneem. Hy het ‘n kliënt verteenwoordig wat sy vuurwapen as gesteel wou aanmeld na hy beroof is.

Hood beweer hy is in hegtenis geneem omdat die kliënt nie saam met hom by die polisiekantoor was nie.

Die kliënt het Hood vroeër gevra om hom te help om sy verklaring vir die polisie voor te berei. Die kliënt het glo gehoor dat die polisie in sulke gevalle mense in hegtenis neem wanneer hulle hul vuurwapens verloor het.

Hood het gesê hy het na die polisiekantoor gegaan omdat beamptes die kliënt glo tydens twee geleenthede geboelie het.

Die polisie in Gauteng het gesê hy sal later in die dag kommentaar lewer.