Nuusflitse


• Vier babas het in die George Masebe-hospitaal in Potgietersrus, Noord-Transvaal, gesterf omdat daar glo nie dokters is om hulle te behandel nie.
• Die Padverkeer bestuurkorporasie sê meer as 2 300 mense is gedurende die afgelope feesseisoen vir verskeie padverkeer oortredings vasgetrek.
• Neil Adcock, een van Suid-Afrika se beste snelboulers, het Sondagoggend in die ouderdom van 81 in Howick, Natal gesterf.
• Hardnekkige gerugte doen die ronde dat pres. Jacob Zuma beplan om weer te trou, maar die presidensie het berigte oor die moontlikheid van nog ‘n troue ten sterkste ontken.
• Altesaam 30 mense is beseer toe twee taxi’s op die N6 tussen Bloemfontein en Smithfield teen mekaar gebots het, het paramedici gesê. Die volgelaaide voertuie het sowat 20 km buite Bloemfontein kop-teen-kop gebots.
• Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, is weer terug op haar pos ná sy ‘n maand lank buite aksie was weens ‘n rits gesondheidsprobleme, insluitend ‘n bloedklont in haar kop.
• ’n Kat wat gevangenes glo sou help om te ontsnap is by ’n tronk in Brasilië gevang met saaglemme, boorpunte en ’n selfoon met ’n battery en laaier in ’n sakkie aan sy lyf vasgemaak. Bewaarders het al dikwels gesien hoe die kat by die Alagoas-tronk in die noordooste van Brasilië in- en uitgaan sonder om werklik ag te slaan op die gebeure.
• Die sakeman, Desmond Grootboom skuld die OR Tambo- internasionale lughawe sowat R42 000 nadat hy sy motor vir langer as 12 maande daar geparkeer het. Die motor is blykbaar nie meer as R30,000 werd nie.
• ’n Vietnamese man is in hegtenis geneem nadat sowat R5 miljoen se renosterhoring in Bangkok se internasionale lughawe by sy bagasie gevind is. Die ses horings, wat elkeen sowat 10 kg weeg, is glo uit Mosambiek gesmokkel wat die vermoede versterk dat die horings afkomstig is uit Suid-Afrika.
• ‘n Ryloper met ‘n groot aantal Mandrax-tablette in sy rugsak is naby Grahamstad in hegtenis geneem, het die Oos-Kaapse polisie gesê. Die dwelms het ‘n geraamde straatwaarde van R240 000.
• Tinus Louw (38) van Pretoria het eergister gesterf op Doornhoek, die hoewe van sy suster, Mariaan de Beer, en haar man, Marius. Sy vrou, Lerelda (38), en hul dogter Miné (10) is albei ook deur die elektrisiteit geskok. Hulle is per helikopter na die Mediclinic in Pretoria geneem. Foutiewe bedrading in ’n kleinerige dam is die oorsaak van die tragedie.
• Barack Obama, die VSA president het glo die Withuis se teenterrorisme-adviseur, John Brennan, as die nuwe direkteur van die CIA benoem.
• ’n Twaalfjarige seun is beseer in ‘n skietery by die Golden Walk-winkelsentrum in Germiston. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ‘n hospitaal gebring.
• ’n Man is van regsverydeling aangekla nadat hy glo ’n toestel gebruik het wat verkeersbeamptes verhinder het om te bepaal hoe vinnig hy ry. Die spoedkamera kon nie die snelheid lees nie en die verkeersbeampte het onraad vermoed. Die motor is in Heidelberg voorgekeer en deurgesoek en daar was ’n sensor op die agterste nommerplaat en twee op die voorste nommerplaat.