Nog plaasaanvalle verwag


TLU SA is bekommerd dat die staking in die landboubedryf, met revolusionêre praatjies soos “Die grondoorlog kom binnekort”, ’n invloed het op die oënskynlike toename in plaasaanvalle die afgelope tyd nie.

Mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, sê dit wil in die jongste tyd voorkom of steeds meer werknemers of voormalige werknemers, betrokke is by aanvalle op boere.

“Ongegronde beskuldigings wat geslinger word, soos dat boere werkers uitbuit, hulle afsit van plase, of dat hulle die grond sou gesteel het, kweek die persepsie dat die boere ’n klomp misdadigers is met wie geen genade getoon hoef te word nie. Dit blyk ook duidelik uit die geweldige wreedheid waarmee aanvalle en moorde plaasvind,” sê mnr. Geldenhuys.

Volgens TLU SA se statistiek het die moorde op plase gedurende 2012 met een gedaal teenoor 2011, en op 51 te staan gekom teenoor die 52 teenoor 2011.

“Die maatstaf lê egter in die aantal plaasaanvalle. Gedurende 2012 het die aantal aanvalle op plase gestyg tot 141 teenoor die 85 van die vorige jaar. Dit beteken dat die aanslag op die boere verhewig. Die feit dat daar minder noodlottige ongevalle is tydens die verhoogde aantal plaasaanvalle, kan waarskynlik toegeskryf word aan die groter paraatheid van boere, en die feit dat al hoe meer boere hulle aanmeld by selfverdedigingskursusse, soos wat TLU SA onder andere aanbied.

Sover hierdie jaar was daar 9 aanvalle waartydens drie mense dood is op plase. “Boere moet hulle veiligheidsnetwerke dringend op ’n gereedheidsbasis kry,” waarsku mnr. Geldenhuys.

Cosatu waarsku dat ’n grondoorlog aan die kom is, en as boere noodgedwonge werkers moet aflê as gevolg van die onwettige protesaksies, kan dit wees dat hulle die teiken word van voormalige werknemers, soos in talle plaasaanvalle die geval blyk te wees.

Daardie werkers weet hoe die sekuriteit werk, wat boere se bewegings is en waar swak plekke is. Boere moet ’n herevaluering van hulle veiligheidstelsels doen, ongeag of hulle tans dalk van mening is dat dit afdoende en veilig is,” sê mnr. Geldenhuys.

Hy het ook ’n beroep op boere en hulle gesinne gedoen om selfverdedigingsopleiding te ondergaan ter wille van hul eie veiligheid. TLU SA kan help met sodanige opleiding. “Die polisie wil nie met TLU SA praat oor die probleem nie nadat ons hulle al meer as ’n jaar gelede gevra het vir dringende gesprekke hieroor. Daarom het ons geen keuse as om verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid te aanvaar nie,” sê mnr. Geldenhuys.