Nog ’n onbekende vir ons… “Purple Mangosteen” (Garcinia mangostana)


Die Mangosteen is ’n tropiese altyd groen boom en oorspronklik van die Sunda Eilande en Indonesië. Die boom word 6 meter tot 25 meter hoog!! Die boom neem nogal ’n paar jaar, volgens bronne, so 5 – 6 jaar voordat dit vrugte dra. Die vrugte van die mangosteen lyk soos litchi’s en is soet en baie sappig en eetbaar. Die skil van die vrug is pers wanneer die hy ryp is.

Hierdie tropiese boom groei in warm gebiede waar die temperatuur nie laer as 0º in die winter daal nie. Indien hy aan koue en ryp blootgestel word, sal die boom doodgaan. Sommige van die bome sal wel herstel maar sal beskadig wees en dalk ook nie daarna goeie vrugte dra nie. Wanneer die vrug gevorm het, is hy ’n dowwe groen kleur en soos die vrug groter en groter word, verander sy kleur na donkergroen totdat hy donkerpers is, en dan weet ons hy is nou ryp en eetbaar. Hierdie rypword proses is vinnig en dit neem 10 dae dan is hy op sy lekkerste.

Wanneer die vrugte gepluk is, word die skil harder en kan vir ’n week of wat gestoor word voordat hy geëet word. Hy moet egter nie langer as dit gestoor word nie, veral as dit nie in ’n yskas gestoor is nie, anders sal die binnekant van die vrug sleg word sonder dat mens van buitekant af kan sien die vrug is sleg. Die hardheid van die skil vertel nie hoe ryp die vrug is nie. Dit is beter om die vrug te eet nadat hy gepluk is, dit voorkom teleurstelling aangesien die skil niks verklap nie.

Die litchi-agtige binnekant van die vrug is 4 – 6 cm groot en is wit. Die vrug bevat 4 – 8 segmente. Die segmente van die mangosteen is aromaties, met ’n karamel-agtige geur. Daar kan ook vrugtesap van gemaak word, wat pers sal wees.

Die boom en vrugte word nie maklik deur insekte, bakterië en ander plantsiektes aangeval nie. Die vrug (wat soos litchi pitte lyk), binne die skil kan geplant word, maar moet nat gehou word tot ontkieming. Hul ontkiem vinnig nadat hul uitgehaal is en indien hulle nie klam gehou word nie, sal hul doodgaan.

Daar is ’n verbod op die invoer van die vrugte en is dus nie maklik verkrygbaar nie. Dit word wel in Australië en Suidoos Asië, maar word nie in Noord Amerika of Europa gekry nie. Hul word ingelê in kan so in sekere ander lande gevind word. Die mangosteen is ook net vir ’n periode van 6 – 10 weke beskikbaar vir verkope op die markte teen ’n baie hoë prys.

Volgens bronne is hierdie vrug ook goed vir bloeddruk en inflammasie asook vir slegte veltoestande en wond infeksies. Daar is ook nog nie genoeg navorsing gedoen om te bepaal vir wat hy alles kan help nie. Die skil word in China gebruik om hulle leerskoene te kleur.

Wat ’n rare vrug! Vrugtegroete tot volgende keer