Motor Rubriek – Veteraan Motors – (vervolg)


Indien ’n Veteraan motor bekom is wat bekend is aan die motor entoesias, d.w.s. ’n motor waarvan die geskiedenis bekend is, kan daar oorweging geskenk word om die enjin aan die gang te sit. Verwyder die vonkproppe en probeer om dit te draai met behulp van ’n gereedskapstuk. Moet dit nie forseer indien dit nie gemaklik draai nie. Daar is ’n moontlikheid dat die suiers vasgeroes is en daarom moet dit nie geforseer word nie.

Soos in die vorige rubriek genoem moet die waterpype en brandstof pype vervang word en indien dit ’n vergasser model is, moet die vergasser skoon gemaak word.

Indien die nokas-band van ’n rubber samestelling vervaardig is, moet dit vervang word. Die rede is voor die hand liggend. Rubber verweer en wanneer die enjin aan die gang gesit word kan die tande van die band gestroop word en kan daar ernstige skade aan die enjin se binne komponente aangerig word. Die klepstoters kan beskadig word. Die suierstange kan gebuig word ens.

Die volgende word aanbeveel alvorens daar gepoog word om die enjin aan die gang te sit. Met die vonkproppe verwyder, gooi skoon enjinolie in die vonkprop gate. So ongeveer ’n eetlepel vol per silinder. Laat dit vir ’n rukkie staan en met die vonkproppe verwyder, draai die enjin met ’n stuk gereedskap. Laat dit vir ’n dag of twee staan en herhaal die proses. Indien dit na die vierde keer nog steeds gemaklik draai, gebruik die aansitter en laat dit vir ongeveer 30 sekondes draai, plaas die vonkproppe terug en poog om die enjin aan die gang te sit

Dit word vertrou dat u suksesvol sal wees met u poging. Tot aanstaande week.