Motor Rubriek – Veteraan Motors (vervolg)


In die vorige week se rubriek is verwys na die ewenaar van ’n voorwiel aangedrewe veteraan motor.

’n Bekende en gewilde motor in die veteraan motor wêreld is die DKW 3=6. Hierdie motor is van die min motors wat voorwiel aangedrewe was in daardie jare. Die tegnologie wat gebruik is in die DKW, is van ’n baie hoë gehalte en word vandag nog gebruik in die hedendaagse voorwiel aangedrewe motors.

Die ratkas en ewenaar van hierdie gewilde motor is gekombineer, met ander woorde dit was ’n eenheid. Die kroonrat wat in die ewenaar van ’n agterwiel aangedrewe motor se ewenaar voorkom, is ook in die ewenaar van hierdie voorwiel aangedrewe motor gebruik.

Die sy-aste van die DKW het direk uit die ratkas gekom en is dan aan die voorwiele gekoppel deur middel van kruiskoppelings. In die geval van die agterwiel aangedrewe motors is die sy-aste in die omhulsel wat deel uitmaak van die soliede agter-as. In die geval van die DKW was die sy-aste oop en nie in ’n omhulsel nie.

Hierdie voorwiel aangedrewe motor was bekend vir sy uitsonderlike padhouvermoë en trekkrag.

Wanneer die herstelwerk aan die enjins bespreek word sal die werking van die DKW se enjin onder die loep geneem word.