Mite van die “Kraken”-seemonster word gekraak


‘n Reuse inkvis wat na bewering tussen 13 en 15 meter lank word, is vir die eerste keer ooit lewendig in sy natuurlike habitat verfilm.

‘n Japanese span wetenskaplikes het die donker dieptes van die oseaan deurkruis opsoek na dié gedierte wat aanleiding gegee tot die mite. Hulle het toe een van hierdie reuse inkvisse naby die Ogasawara eilande, 1,000 km suid van Tokio opgespoor waar hy stoksielalleen sowat 1 kilometer onder die water geswem het.

Die dier is klein in vergelyking met ander reuse inkvisse, maar hierdie drie meter lange silwer seekreatuur het gesorg vir groot opwinding onder wetenskaplikes. Die film sal in die toekoms baie help om die aard en gewoontes van die geheimsinnige dier te ondersoek.

Die Japanese wetenskaplike wat vir die verfilming verantwoordelik was, Tsunemi Kubodera, sê hul sleutel tot sukses was ‘n klein dompelpomptuig met ligte wat vir beide menslike en die inkvis se oë onsigbaar was. Hy het verduidelik dat indien jy die vis probeer nader met ‘n geraas en ‘n skerp lig, sal hy nooit naby aan jou kom nie. Hy het saam met ‘n kameraman en die tuig se operateur gesink na ‘n diepte van ongeveer 630 meter met ‘n een-meter-lange tjokka as aas. Hul het altesaam ongeveer 100 keer neergedaal voordat hulle die inkvis opgespoor het.Hulle het in die pikdonker diepsee gesit en wag met ‘n infra-rooi liggie wat nie eers vir die menslike oog sigbaar is nie. Toe die vis naby genoeg kom, het hulle begin verfilm en die vis gevolg tot ‘n diepte van 900 meter.

Die mite van die “Kraken”, ‘n seemonster met verskeie tentakels, is waarskynlik van hierdie enorme inkvisse afkomstig. Hierdie diere is volgens die mite berug daarvoor dat hul verskeie Noorweegse skepe in die 18de eeu gesink het.

Kubodera sê die vis was vir hom glad nie so skrikwekkend nie, “’n Reuse inkvis voer in wese eintlik ‘n baie eensaam bestaan. Hulle lewe nie in groepe nie en swem alleen oor en weer in die diepsee. Toe ek dit sien het hy eintlik vir my verskriklik eensaam gelyk.”