Mid-somerkleure


Januarie word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroeg somerkleur van die plante, struike en rankplante wyk voor die geharde helderkleurige somerblomme wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs kan deursien.

Nuwe rose kan aangeplant word. Bestaande rose kan netjies gesnoei word. Moenie die grond rondom die bestaande rose losmaak in hoogsomer nie. Dit kan jou rose beskadig. Rose moet nou roos-kos kry en goed natgemaak word -elke 5 tot 7 dae. Rose is dorstige plante, hulle hou van baie water.

Aan die ander kant moet petunias, angeliere en geranium nie te veel water kry as dit baie warm is nie. Die plante vrot maklik as hulle voetjies nat is. Gee hulle eerder minder water en meer gereeld as om te veel op een slag te gee. Japonikas blom wel in die winter, maar hulle blomknoppe word al in Januarie gevorm. Indien hulle nie genoeg water kry nie sal die wortels uitdroog en die blomknoppe sal ophou vorm en afval.

Takke van laerliggende bome moet nou gesnoei word. Die skaduplante wat daaronder groei kan dan weer genoeg lig ontvang. Rankers kan uitgedun word of as hulle nie blom nie, uitgesny word. Jy kan jou grond teen die somerhitte beskerm deur jou beddings met 5cm deklaag te strooi. Dennenaalde, bassplinters of kompos kan vir die doel gebruik word.

Die blom van die maand: Roos (Rosaceae)

Geniet die laaste van jou somer tuin. Herfs is op ons hakke.