Kommentaar oorbodig


Suid-Afrika het ’n paar jaar gelede drie uiters gesofistikeerde duikbote aangeskaf teen ’n astronomiese R8 biljoen van Duitsland. Dit het deel van die R70 biljoen wapentransaksie uitgemaak wat steeds ’n saak van omstredenheid is weens die bewerings van grootskaalse korrupsie wat gepaard gegaan het met die bestellings.

Waarskynlik lag die Duitsers vir die spul Suid-Afrikaners wat in die vloot is, want die drie duikbote is almal buite werking.

Die een boot, gedoop die SAS Manthtisi is sedert 2007 in die dokke vir herstelwerk na ’n reeks ongelukke wat veroorsaak is deur nalatigheid en onkunde.
Eers het die duikboot teen ’n muur gebots, toe is ’n kragkabel verkeerdelik ingeprop wat die hele elektriese sisteem befoeter het. Die vaartuig se batterystelsel wat R35 miljoen kos, is intussen ook sodanig beskadig dat dit vervang moet word. Blykbaar is die batterystelsel beskadig omdat die “tegnikus” nie die verskil tussen positiewe en negatiewe pole verstaan nie.

Die tweede boot, SAS Charlotte Maxeke is reeds weke buite werking. Die verskoning klink redelik bekend: roetine instandhouding. Die Vloot weier om enige inligting te gee oor die vaartuig.

Die derde duikboot, wat vernoem is na die reenkoningin, SAS Queen Modjadji, is ook buite aksie. Hierdie boot, onder bevel van ene kommandeur Handsome Thamsanqa Matsane het teen die seebodem gebots en sal baie lank buite werking wees weens die ernstige skade.

Die foto toon die boot in die droogdokke waar hy herstel moet word. Kommandeur Handsome sit intussen by die huis en geniet sy maandelikse salaris.