Kaapse Katjiepiering / Wildekatjiepiering / Rothmannia capensis


Hierdie pragtige boom behoort aan die Rubiaceae familie. Die Kaapse Katjiepiering is ’n inheemse boom en lok voëls na ons tuine. Die wortels van hierdie boom is nie aggressief nie en kan met vrymoedigheid in die tuin geplant word. Hulle kom voor van die Noorde van Transvaal tot in die Weskaap in woude, klowe en ook op rotsagtige heuwels. Dit is ook nogal algemeen te sien in die Johannesburg streek, Waterberg en Soutpansberg.

Die boom is ’n altyd groen boom en word 10 meter maar bereik tot 20 meter in die woude en die kroon van die boom is baie dig en rond. Die bas van die jong takkies is glad en grys-bruin en word donker grys hoe ouer dit word en die bas word ook grof en lyk soos krokodilvel. Die blare van die boom is blink en groen en is dig opmekaar aan die end van die takke. Dit lyk ook of hulle knoppies in die are het.

Die bome blom in die somer van Desember tot Februarie. Die blomme lyk soos klokke en is romerig met pers-rooi strepe en spikkels aan die binnekant van die blom. Die roomkleur blare is na onder gekrul en lyk sommer soos ’n orgideë. Natuurlik ruik hulle baie soet, soos ons die katjiepierings maar ken. Hul soet geur hou ook ’n hele ruk nadat hulle droog is. Die blomme is omtrent 80 mm lank. Na die blomme volg die vrugte wat rond, hard en groen is. Die vrugte word 70 mm groot met ’n leeragtige skil wat lyk of hul groewe het. Hierdie vrugte word sag wanneer hul ryp is en verkleur ook na bruin. Binne-in hierdie vrugte is ’n klomp plat sade wat in vrugtemoes is. Die vrugte kan geëet word, maar is nie smaakvol nie. Ape en bobbejane eet die groen en ryp vrugte van die bome af. Daar is ook verskillende bokke soos die bosbok, grysduiker en bosvarke wat die vrugte eet wat van die bome af val.

Hierdie boom word gebruik om handvatsels te maak vir verskeie huishoudelike artikels soos houtlepels. Die wortels van die boom word soms gedroog en ’n poeier gemaak wat gebruik word vir rumatiek. Die poeier word ook in klein wonde in die vel gevryf. Die sap van die vrugte word warm gemaak en ook aan wonde en brandwonde gesmeer, dit verhaas die heelproses. Die wonde word selfs in die rook van die brandende wortels gehou om gouer gesond te word.

Die boom groei maklik van saad. Wanneer die vrug bruin is, haal die sade uit en saai dit dan in ’n mengsel van 3 dele riviersand by 1 deel kompos. Hou dan die sade klam tot hulle begin uitloop en dit neem omtrent 14 dae. Die katjiepiering groei ook mooi in ligte skadu of volson in leem of sanderige grond. Hulle blom van hul 2de jaar af. Hulle kan ligte ryp weerstaan en is ook droogtebestand.

Geniet u heerlike blommende katjiepierings.