Hoeveel nog?


Dit raak al moeiliker om geduldig en kalm te bly. Januarie 2013 is soos elke ander maand, ingeklee met die wreedaardigste moorde denkbaar op volksgenote. Met die ter perse gaan was daar reeds tien gevalle aangeteken. Die moorde by Muldersdrift wys dat die regering nie erns het met die bekamping van moorde deur terroriste op blankes nie.

As daar erns was om die moorde te beperk, sou die regering die doodstraf heringestel het. Benewens die doodstraf is daar ook ander strawwe wat vir die plunderaars, verkragters en kapers ingestel kan word. Die beproefde straf waar oortreders groot klippe klein maak, het menige potensiële misdadiger laat besluit dat die misdryf nie die gevolge werd is nie.

In hierdie week se uitgawe is daar weer te veel berigte oor moord en doodslag. Muldersdrift gaan gebuk onder hewige aanslae deur terroriste

Tereg vra gesaghebbendes dieselfde vraag as wat elke leser elke dag vra:

Hoeveel moorde nog op onskuldige volksgenote alvorens die mensdom op internasionale vlak gaan besef wat is besig om te gebeur in hierdie land van ons?

Die 25 boewe wat die casino beroof het, is maar net nog ’n bewys van hoe Suid-Afrika verval het tot ’n misdaad-mekka, want hierdie rowers se ouderdom wissel van 15 jaar tot 25 jaar.

Die planne wat gemaak word om mense op Mars te gaan aflaai met die bedoeling dat hulle ’n kolonie aldaar moet vestig, is nie net ’n vreemde gedagte nie – dit klink maar taamlik verspot. Ons sal maar kyk wat gebeur!

Die Vryburger se redaksie wil aanbeveel dat mense eerder die goeie advies sal gebruik wat deur ons medewerkers aangebied word. Gebruik eerder daagliks ’n bietjie seldery en bly gesond! Op Mars is nie sulke kos nie.

Op kerklike terrein is daar verwikkelinge wat kommer wek. Voorheen is berig dat duisende lidmate die NG Kerk verlaat het, nou is berigte ontvang van die beswaardes in die Hervormde Kerk wat nou afskei van die Kerk waarvan hulle tot nou deel was.

Hierdie verbrokkeling op kerklike terrein is besig om ons volk nog vêrder te versplinter.

Die geweldige bedrae wat uit die belastingbetalers se beursie kom om sogenaamde tradisionele leiers vet te voer, is ’n skreiende skande. Hulle lewer bitter min wat tot voordeel van die land is.

As die groot geldman van ’n bankinstelling nou ook begin stry teen minimum lone, dan gebeur daar dalk iets moois in die nabye toekoms. Ons sal maar wag ek kyk wat gebeur!

Lekker lees en bly te alle tye waaksaam.

Redakteur