Foutbal!


En daar word die krieketspan van Suid-Afrika van die troon afgestamp deur die spannetjie van Nieu-Seeland. Gedurende die toetse het Suid-Afrika die swart pette behoorlik vermorsel, maar hulle het hulle behoorlik vasgeloop teen die eendag span. Suid-Afrika was die nommer een span in die wêreld voor die reeks, maar is nou in die derde plek nadat hulle die reeks van drie wedstryde verloor het.

Suid-Afrika het van sy sleutelspelers laat rus vir die eendag wedstryde omdat hulle die manne vars wil hou vir die opkomende reeks teen Pakistan. Dit het hulle egter duur te staan gekom. Nadat Nieu-Seeland die eerste wedstryd Vrydagaand gewen het, is sake verder vir Suid-Afrika bemoeilik toe hulle kaptein, AB de Villiers geskors is vir twee wedstryde omdat die Blommetjies se boultempo te stadig was. Gisteraand het die Nieu-Seelander met 27 lopies geseëvier nadat nie minder nie as vyf Suid-Afrikaners hulle paaltjies verloor het deur uitgehardloop te word. Daar is nog een wedstryd in die reeks oor. Ons hoop maar dat die swart pette nie weer onderskat sal word nie.

Giniel de Villiers in sy Toyota het tweede in die Dakar wedren geëindig. Dit is voorwaar ’n prestasie in die uitmergelende ren. Die wenner was Stephane Peterhansel in ’n Mini.

Die sokkerspan kou behoorlik harde bene in die Afrika nasies beker. Hulle kon slegs ’n 0-0 gelykop uitslag bekom teen die Kaap Verdiese eiland. Hierdie land se bevolking is omtrent soveel soos dié van Benoni. Met die gebrek aan persone wat doele kan aanteken, moet Gordon Ingesund miskien kyk om “oproermakers” te bekom in Sasolburg, Marikana en De Doorns!

Transvaal het Saterdagaand ’n oorwinning oor die Russiese Bere behaal. Die Transvalers speel hierdie seisoen ’n reeks vriendskaplike wedstryde, nadat hulle plek in Super rugby deur die OP ingeneem is. Transvaal se volgende wedstryd is Saterdag teen die Vrystaat.