Die lewe is darem maar snaaks. Net wanneer jy dink jy staan op, word jy weer platgeslaan. Dis maar een van daardie realiteite van hierdie aardse lewe.
Neelsie noem dit sommerso in die verbygaan, nou is dit verby. Eintlik net soos die lewe ook gebeur sommerso in die verbygaan, en skielik is dit verby. Ons stry vir vryheid, ‘n vryheid wat nie sonder bloed en trane in ons skote gaan val nie. Nou die dag nog gesels ek met ‘n oom wat die laaste paar dekades van sy lewe gewy het aan bewusmakingsveldtogte om sy volk se trae ogies tog net te laat oopgaan, al open die ogies ten minste net op skrefies. Maar helaas, so toe soos ‘n doodskis nadat hy begrawe is bly hierdie volk se ogies.
Neelsie dink toe so by homself aan die oud-stryder se verhaaltjies. Skielik slaan dit hierdie ou tussen die oë. Gaan hy ook eendag staaltjies aan die jonges vertel oor die eerbare stryd wat hy gevoer het, net om teen daardie tyd nog nie vry te wees nie? Is dit werklik die moeite werd om te stry en te ly vir ‘n volk wat kies om deur die blare te bly? ‘n Volk wat jou uitlag as jy die woord vryheid uiter, wat jou name gee soos rassis, regse, verregse en ekstremis? ‘n Volk wat een of ander siek genot daaruit put om bietjie vir bietjie uitgemoor te word? ‘n Volk wat so laag gedaal het dat hy nie kan sien hoe sleg dinge met sy mense gaan nie? Nee wat, dit is glad nie die moeite werd om te stry en ly vir so slapbasvolkie nie. Neelsie sal van nou af eerder fokus op daardie deel van hierdie ou verflenterde volkie wat weier om deel te raak van een of ander siek verdraaide reënboog. Die res van hierdie eens trotse volk kan sover dit Kordaat Neelsie betref, in die see gaan spring en swem saam met hulle nuwe maatjies.
Indien my woorde as hard en gevoelloos oorkom…pragtig! Miskien het dit ‘n paar skrefiesogies tot gevolg. Indien my woorde sag en vriendelik oorkom…pragtiger! Miskien is daar tog hoop dat daar nog werklike goeie Boere daarbuite is. Soort soek immers soort, en laat almal weet dat Kordaat Neelsie ‘n Boer is. Vanselfsprekend eintlik, aangesien u elke week gegroet word met “Boeregroete”. Dit is nie sommer net ‘n woord nie, dit is ‘n opregte woord uit ‘n opregte Boerehart.
Boeregroete,
Kordaat Neelsie
Goeiedag Neelsie,
Kordaat inderdaad.
Dankie vir hierdie opbeurende (defnitief nie opswepend of opruiend nie) menig oor dieselfde ou volkie waaraan ek ook behoort. Dit is verblydend om te hoor dat daar ander is wat ook tot hierdie gevolgtrekkings gekom het.
Iets wat my nogal opgeval het is jou opmerking van die oudstryder se frustrasie oor die volk se trae ogies en sy bewusmakingsveldtogte. Jy het nie dalk verwys na Oom HS van Blerk nie? Dis die een oudstryder waarvan ek met sekerheid kan getuig dat hy ten minste een van sy volksgenote se ogies oopgemaak het. Myne.
Boeregroete,
DuP
My fokus en ondersteuning is by die V.V.K. en die Boere-Afrikaner Volksraad, synde ‘n groep mense wat hulle self ge-identifiseer het as mense met ‘n gemeenskaplike geloof, herkoms, taal en kultuur wat selfbeskikking binne eie grondgebied wil beding, afgesien daarvan of jy jouself ‘n Boer, ‘n Afrikaner of Boere-Afrikaner noem. Volgens inligting op die V.V.K. se webwerf is die siening dat “Boer” en “Afrikaner” as wisselvorm gebruik word. (Nie as benamings wat op verdeling gemik is nie). Dit is die gemeenskaplike herkoms, waardes en die vryheidstrewe wat hoofsaak is.
Sover ek bewus is, is die VVK en Boere-Afrikaner Volksraad die enigste wat op wettige en ge-ordende wyse enige iets daadwerkliks gedoen het, en doen, om selfbeskikking ingevolge die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Volkereg te beding.
Die V.V.K. het ook bewys dat Boere, Afrikaners, Boere-Afrikaners en andere met dieselfde oortuigings en waardes, kan saamstaan. Dink maar bv. aan die Verkenners, Die Afrikaner Weerstandsbeweging en die HNP wat o.a. almal betrokke is. Die HNP bv. “… is ‘n politieke party wat hom beywer vir die herstel van die Afrikanervolk se vryheid.. ” maar was bereid om kragte saam te snoer en groot werk te verrig met die verkiesing van die Boer-Afrikaner Volksraad ter wille van eenheid met hierdie poging.
Vanweë die verskillende uitsprake wat in die “mening” uitgespreek word oor die “volk” (siek genot om bietjie vir bietjie uitgemoor te word, slapbasvolkie, ‘n volk wat jou uitlag …) is dit nie moontlik om af te lei watter “volk” nou eintlik ter sprake is nie. Moet ‘n mens aflei dat die “Boeregroete” “uit ‘n opregte Boerehart” beteken dat die Boerevolk ter sprake is? Indien wel, watter Boervolk word bedoel? Die een wat hom beywer vir die herstel van die Boere-republieke of die een wat die hele Suid-Afrika vir die Boerevolk wil herower of die Boerevolke waarvan op party webwerwe (wat hulself as verteenwoordigers van die Boerevolk beskou) gepraat word en wat oor niks anders as moddergooi en afbrekende kritiek gaan nie en niks konstruktiefs aan te bied het nie.
Watter Boere-republieke moet herstel word, die ZAR en Oranje Vrijstaat?. Ek kan so vinnig aan minstens nog 8 ander gewese Boere-republieke dink.
Dit is nie nodig dat iemand my vertel of herinner aan wat ‘n Boer is nie. Ek ken die redenasies maar ook die harde werklikheid van die toestand waarin ons ons bevind. Ek is in murg en been, gene en bloed ‘n Boer. Ek ken my herkoms en stamboom wat sedert 1674 strek. Ek het in my kinder- en jongmensdae die voorreg gehad om dikwels in die geselskap van die ouer Boeregeslag (Tweede Vryheidsoorlog, Rebellie ens.) te wees en van hulle te leer en kennis te neem van hulle waardes wat seer sekerlik navolgingswaardig was. Ek kan hulle nie anders as Boere-adel beskryf nie en by nabetragting besef ek dat ons in baie opsigte tekort skiet as ons in hulle voetspore wil volg. Selfs toe het hulle afwisselend van die Afrikanervolk en ander kere as die Boerevolk gepraat om dieselfde volk aan te dui.
Ek het egter geen gewetenswroeging om myself ‘n Boere-Afrikaner te noem as aanduiding dat ek deel is van daardie groep mense behorend tot diegene wat by die V.V.K. geregistreer is en wat deur die Boere-Afrikaner Volksraad verteenwoordig word nie. Indien die verkose Volksraad as die “Afrikaner Volksraad” bekend was, sou ek om dieselfde rede net sowel na myself as ‘n Afrikaner kon verwys.
Ja, ek weet. Daar word gesê dit is die Afrikaners (‘n veralgemening) wat “ons” verraai het ens. ens. Wat van die Afrikaners wat ons nie verraai het nie? Wat van die Afrikaners wat nee gestem het? Veralgemening is ‘n gevaarlike ding.
Is Boere-Afrikaner nie ‘n pragtige, beskrywende, weldeurdagte en wyse benaming vir daardie groep mense van ons “volk” wat hulle self as behoudend beskou en trou is aan hulle herkoms, taal en kultuur en selfbeskikking wil hê nie?
Ons Vader het elkeen van ons as unieke wesens geskape en elkeen van ons is, reg of verkeerd, geregtig op ons eie oortuigings. Mense wat nie met ons dieselfde oortuigings deel nie, is nie noodwendig ons vyande nie. Dit is hulle goeie reg om hulle eie standpunte te hê net soos wat ons onsself die reg toe-eien om bepaalde standpunte te huldig en bepaalde doelstellings na te streef.
Dit is tog sekerlik beter om mense met dieselfde oortuigings saam te snoer as om mense wat nie ‘n mens se oortuigings deel nie, uit te kryt of te verdryf nie..
As ons leer om respek te hê vir andere se reg op hulle eie standpunte (ons hoef mos nie daarmee saam te stem nie) en handelinge, of nie-handeling, (en indien “andere” dit ook leer) sal daar dalk meer welwillendheid wees.
Goeiedag Vaandrig,
My afleiding uit jou opmerking oor jou gesprekke met “die ouer Boeregeslag (Tweede Vryheidsoorlog, Rebellie ens.” is dat ek min of meer in dieselfde tydperk en milieu as jy groot geword het. My liefde vir die Boerevolk, glo ek, lê dieper as net uit wat ek by my pa en my oupas geleer het. Ek glo dat dieselfde vryheidsdrang wat hulle gedryf het om aan die Tweede Vryheidsoorlg as Kaapse Rebel, aan die 1914 Rebellie as Boererebel en as lede van die Ossewabrandwag teen Jan Smuts se verraad te laat optree het, iewers in my bloed ook bruis.
Ek glo dat daardie vryheidsdrang in my voorouers gebrand het omdat hulle ook deel gehad het in die Verbond wat ons Vader by Bloedrivier en Majuba met ‘n klein volkie van Afrika gesluit het.
Nou moet ek sê dat ek groot geword het in ‘n huis waar my pa my geleer het dat ek trots moet wees op my Afrikanerskap, maar dat die waardes wat hy my geleer het, dieselfde waardes was wat ek van my Oupa geleer het, maar hy het na homself verwys as ‘n Boer en selfs as ‘n Kolonialer. Die feit dat ek verkies om na myself te verwys as ‘n Boer eerder as Afrikaner, is bloot omdat ek lief is vir die naam Boer en glo dat die deursnee persoon wat na homself as ‘n Boer verwys, ook iemand sal wees wat sy Geloftes in stand sal hou en bo alles lief sal wees vir ons Vader in die hemel.
Laat dit ver van my wees om die naam Afrikaner af te kraak, na my mening dui dit ook my eie kontinentale herkoms aan, want ek is in Afrika gebore en ek verkies hierdie kontinent bo enige ander vasteland.
Boeregroete,
DuP
Neelsie, u gevolgtrekking is feitelik korrek, vergun my tog ‘n opmerking, ek sal ook graag verneem hoe oom Vaandrig en mnr Dup daaroor voel.
My argument is dat die slapfanies nie nuut is nie, hulle was daar tydens die Trek, hulle was daar tydens die Ingelse oorlogte, die hensoppers, as ek reg onthou. Met tye het hulle egter gekies om nie daar te wees nie, die Rebellie, die bloedige mynstakings en Dienspligontduikers. Hulle ry op ander se rug, tydens die Verwoerd era, baie het selfs met “Yes Baas Botha” nommerplate gery om van die rabatte te kon skep. Wat u vandag sien is ‘n ander weergawe van hierdie “weet nie wat om hulle te noem nie”. Ek is bly u het vrede gemaak dat die klippie altyd in die skoen gaan wees.
Om te sien hoe die asblik-afrikaners lyk waarvan ons praat, asem diep in en gaan loer bietjie op plekke soos Kletskerk en Wat kyk jy?.