Ek sien dit so!


Hier is ek alweer! Dit wil tog voorkom of onkruid inderdaad nie vergaan nie.

Met die nuwe jaar so op almal se lippe-soos elke nuwe jaar voor hierdie een, het Neelsie dit goed gedink om vir ‘n slag positief te wees oor dinge. Die positiwiteit begin egter wegval na so week of wat in die nuwe jaar in, en word onwillekeurig vervang met die realiteit van ons benarde situasie.

Laat hierdie ou skepsel dus begin deur elke leser van ons eie, vrye volkskoerantjie ‘n uiters voorspoedige Nuwejaar toe te wens. Van my lippe na God se Ore. Ons mag en sal voortgaan om te stry vir reg en geregtigheid. Ons mag en sal die vryheidsvlam brandend hou. As dit deel van die Almagtige se Plan is, mag en sal ons die lewe behou om verder te vorder op ons vryheidsroete.

Laat ons nie moeg raak in die stryd nie, laat ons 2013 die jaar maak waarin elke vryheidsgesinde Boere-Afrikaner sal verklaar: Ek het my kant gebring in 2013! Begin deur te registreer op die VVK se kieserslys indien jou waardevolle naam nog nie daarop is nie. Raak betrokke by ‘n organisasie wat soos jy voel oor vryheid. Praat met jou vriende en familie oor die stryd wat hier onder hul neuse woed. Staan sterk en weet, jou stryd is ‘n edele een.

Ek lees net gister nog ‘n boekie oor ons volk se kinderhelde. Kinders wat uit beginsel hul lewens opgegee het, kinders wat onskuldig deur barbare vermink en vermoor is, kinders wat die leiding geneem het toe die ouer garde begin moeg raak het vir al die uitdagings. Ons skuld daardie kinders baie, die minste wat ons kan doen is om ons eie kinders te vertel van hul voorgangers se dapperheid en vasberadenheid. Dit was hierdie dapper jongelinge wat die pad uitgelê het vir ons mense van vandag. Wat sal ons nageslagte te sê hê oor ons huidige geslag volwassenes en kinders?

Hou moed, en wees sterk. Nie net vir jouself en jou kinders nie, maar ook vir die kindertjies wat nog gebore moet word. Wat ‘n voorreg is dit tog nie, om te weet jy mag deel wees van ‘n handjievol Bittereinders wat die toekoms van latere geslagte reg moet vorm nie!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie