Die pot en die ketel op die Gupta ontbytstoof


Dit is ‘n wel bekende feit dat Zuma en die ANC groot somme geld van die skatryk Gupta familie ontvang. Die Guptas besit die rekenaar reus Sahara en ook die “New Age” koerant. Die “New Age” word deur baie beskou as ‘n ANC propaganda blad, weens die noue bande met die ANC. Wat ooglopend voorkom as ‘n bemarking foefie, het die “New Age” die gewoonte ontwikkel om ontbyt funksies te reël met wat hulle beskou as invloedryke persoonlikhede in SA wat ook politici insluit. Teen groot koste kan lede van die publiek hierdie byeenkomste bywoon en die koerant kry dan ook kommersiele borg vir die ontbyt. Dit blyk dus dat hierdie byeenkomste die Guptas niks kos nie en dat hulle heel waarskynlik geld maak daaruit.

Helen Zille was genooi vir so ontbyt, maar het later onttrek. Haar verskoning was dat die ontbyt met staatgeld gefinansier is. Dit het haar egter nie gepla toe sy ‘n vorige ontbyt van die aard bygewoon het wat deur Telkom (‘n staatsmaatskappy) geborg is nie.

Dit het ‘n politieke en media storm ontketen. Waar die pro DA publikasies soos nuus 24 Mev Zille verdedig het en die pro ANC publikasies haar aangeval het.

In die “Weekend Argus” het die nuus gebreek dat Zille in 2011 gaan geld bedel het by die Guptas en met ‘n aansienlike bedrag daar weg is. Die Star berig dat Zille gesê het sy sal nie die geld wat sy van die Guptas gekry het terug gee nie. Daarteenoor berig News24 dat die DA ontken dat hulle geld van die Guptas ontvang het. Die vraag is, wie lieg, die koerante of die DA?

Die ANC in die Weskaap se Marius Fransman het ook oor die naweek die DA beskuldig dat hulle met skenkingsgeld van 4 Miljoen Rand sopas hulle kantore opgeknap het. Die suggestie word gelaat dat dit met Gupta geld gedoen is. Wat die DA natuurlik hewig ontken. Die vraag is natuurlik, indien die DA geld gaan bedel het om hulle kantore oor te doen en die Guptas wou nie nog geld gee nie, sou Zille hulle ontbyt bygewoon het?

Wat sê dit van politiek in Suid-Afrika? Die bekende spreekwoord “wie se brood jy eet, se woord sal jy spreek” kom op. (In die geval sou “wie se ontbyt jy eet, se woord sal jy spreek” seker meer gepas wees). Dit is ook vreemd dat die DA gereeld kritiek uitspreek teenoor die ANC oor geld wat onder die tafel na die ANC gewentel word, maar as die bewerings waar is dat die Guptas vir die DA geld gegee het en die DA dit stil (probeer) hou, is dit nie maar dieselfde ding nie? Beteken dit dat as jy genoeg geld het, kan jy politieke regte en voorregte in Suid-Afrika koop? Wat sê dit van die sogenaamde “demokrasie” as die ANC en die DA aan die Gupta ontbyttafel vreet in ruil vir wie weet wat? Die vreemdste is die beskuldigings oor en weer oor geld wat die twee partye onder die tafel ontvang, asof die ander een dit glad nie doen nie. ‘n Pot en ‘ n ketel wat altwee ewe swart gebrand word op die Guptas van die wêreld se ontbyt stoof. Hoe lank voor die pot oor kook en sal die ketel anders wees?

Piet Potlood