Die EU begin 2013 versigtig optimisties


Aan die begin van 2013 kan die Europese Unie met ‘n sug van verligting terugkyk op ‘n moeilike jaar wat verby is. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se nuwejaarsboodskap aan die Duitste volk was egter dat die komende jaar nog moeiliker as die afgelope jaar sal wees.

Die positiewe nuus is dat lande soos Griekeland, Spanje en Italië se streng ekonomiese besnuinigingsmaatreëls begin vrugte afwerp. Die onderskeie bevolkings se opstandigheid neem egter so toe dat daar nie sekerheid is oor hoe lank dit nog volhoubaar gaan wees nie. Italië moet juis in Februarie 2013 ‘n verkiesing hou en as Mario Monti nie herkies word as regeringshoof nie sal die huidige maatreëls moeilik verder deurgevoer kan word. Op hierdie stadium is hy nog die gunsteling om die verkiesing te wen.

Alhoewel dit op hierdie stadium lyk asof Griekeland en Italië se voortgesette lidmaatskap binne die EU meer verseker raak is dit Brittanje se voortsetting wat onseker begin word. Brittanje wil in die voordele van die EU deel, maar is minder gewillig om dieselfde opofferings te maak as die res van die EU. Dit veroorsaak dat sekere lande in die EU die Britte se houding begin bevraagteken.