Davos oorskadu wêreldnuus


Davos2013 is uiteindelik agter die rug. Die groot jaarlikse byeenkoms van die World Economic Forum (WEF). Dit is diè internasionale byeenkoms waar wêreldleiers, leiers van die grootste nywerhede, die media en ander internasionale meningsvormers byeenkom om na mekaar te luister en saam te beplan. Daar kan op die internet gesien word wat elkeen wat ‘n toespreekbeurt gekry het te sê gehad het. Hoe kan dit alles saamgevat word?

Engela Merkel, die bondskanselier van Duitsland, was een van die swaargewigte. Sy het onder andere gesê: “Ons in Duitsland is van mening dat sentrale banke nie die gemors moet opruim wat deur politici agtergelaat is nie”. David Cameron, die eerste minister van Brittanje, het sy geleentheid (ietwat onvanpas) gebruik om te verduidelik dat hy van die Europese Unie sekere strukterele veranderings gaan eis, anders verlaat Brittanje die EU. Tim Bernars-Lee, die uitvinder van die Wêreldwye Web, het gesê: Sosiale webwerwe is silos en data moet aan almal beskikbaar wees.

Die Arabiere se nuut verkreë “demokrasië” na die “Arabiese lente” (Arab Spring) is bespreek en wat daar gedoen kan word om hulle te help om hulle drome van geluk en welvaart te laat realiseer. So is daar oor verskeie sake in die wêreld toesprake gehou en met besprekings opgevolg. Intussen het almal probeer om met een of ander invloedryke in die wandelgange in geprek te tree om sy of haar land of eie belang te bevorder.

Suid-Afrika was ook daar, sy groot nywerheidsleiers en ‘n hele gevolg van ministers en ook Jacob Zuma. Die algemene indruk was dat Suid-Afrika van so min belang was dat dit eintlik nie eens noemingswaardig was nie. Daar was meer belang in ander Afrika state as in Suid-Afrika. Die keer of wat dat daar aan Jacob Zuma vrae gevra was, was die antwoorde vaag en ontwykend. So byvoorbeeld was sy antwoord elke keer as die media hom oor die arbeidsonrus en die mynbousituasie vrae gevra het: “We are engaging stakeholders”.