Boeremag 2 – vyfde persoon gearresteer


Nóg ‘n man, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, is in hegtenis geneem in verband met die beweerde komplot om terreur in die land aan te stig.

Die 31-jarige boer van Aberdeen in die Oos-Kaap, word aangekla vir hoogverraad.

Inligting wat ontvang is, dui daarop dat hy in hegtenis geneem is weens sy klaarblyklike betrokkenheid om brandstof opgaartenks in Port Elizabeth te laat opblaas, het brig. Billy Jones, kommunikasiehoof van die Vrystaatse polisie, gesê.

Die vier ander persone wat glo ook deel van dié komplot was en wat glo die ANC se konferensie wou ontwrig, moet weer op 25 Maart in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Van dié vier wat gearresteer is, het Hein Boonzaaier (50) van Verwoerdburg borgtog ontvang.

Die ander drie persone, Martin Keevy (47) van Bloemfontein, Johan Prinsloo (49) van Naboomspruit en Mark Trollip (49) van Douglas se aansoeke het misluk en hulle is tans in aanhouding.

Van die persone wat in hegtenis geneem is, is lede van die Federale Vryheidsparty wat verlede jaar gestig is.