Boeing 787 bly op die grond


Die nuwe Boeing 787 Dreamliner passasiersvliegtuie word deur die VSA owerheid tydelik verbied om die lugruim te bestyg. Die vliegtuig moet oral in die wêreld, al 50 wat reeds verkoop is, in die betrokke lande op die aanloopbane bly totdat bewys gelewer kan word dat die vliegtuie veilig is.

Die hoë tegnologiese produk, met sy ekonomiese brandstofverbruik, ondervind tans verskeie probleme. Die probleme het hoofsaaklik te doen met sy litium ion battery, wat deel vorm van die uniekheid van die vliegtuig. Die battery oorverhit wat brandprobleme skep. Daar is ook in sekere gevalle ander kleiner probleme ondervind, met onder andere, ‘n lokale brand wat geblus moes word, ‘n brandstoflekkasie en in ‘n ander geval ‘n gekraakte kajuitvenster.

Volgens die hoofuitvoerende beampte van Boeing sal die probleme binnekort opgelos wees en is dit alles van ‘n geringe aard en is dit tipiese “tandkry probleme” wat gewoonlik met ‘n nuwe produk ondervind word.

Daar is op die oomblik reeds 800 van die vliegtuie bestel teen ‘n prys van $200-miljoen elk en die probleme wat ondervind word kan die besigheidsvooruitsigte dalk benadeel. Boeing is die VSA se grootste buitelandse valuta verdiener.