Aardverwarming


Op 20 Maart 2000 het daar berigte in die Londense koerante verskyn dat aardverwarming nou ‘n feit is en dat sneeu sal verdwyn.

Dertien jaar later, met ontwrigte verkeer op die paaie en lughawens wat soos vlugtelingkampe lyk agv die tienduisende gestrande reisigers, is hierdie politieke foefie wat net meer belastings wou vorder, hopenlik nou ontmasker.

Al Gore, die groot profeet van aardverwarming het sy sukkelende televisiestasie aan die Qataries se Al Jazeera verkoop en sommer by al die winste wat hy uit aardverwarming gemaak het plus ‘n Nobelprys, daarmee ‘n verdere $100 miljoen in sy sak gesteek.

Intussen gaan Europa gebuk onder een van die koudste winters in 70 jaar en is talle mense reeds dood. Oral is verkeer en lughawens ontwrig, maar Rusland beleef van die ergste winters.

Verlede week was Moskou op die punt van ‘n verkeersineenstorting nadat daar in twee weke meer sneeu geval het as wat gewoonlik vir die hele maand van Januarie aangeteken word.

Byna 200 mense het hierdie winter reeds as ‘n direkte gevolg van die koue in Rusland gesterf.