Zuma speel sy kaarte versigtig

Pres. Zuma het sy voet neergesit oor onderwyser aangeleenthede. Hy was redelik ferm oor die feit dat onderwysers na sy mening minder as sewe uur per dag skoolhou en sterk laat blyk dit traak hom nie wat die vakbond Sadou van sy mening dink nie. Hy is van mening dat die toedrag van sake voortaan anders benader gaan word.

“Ek gee nie om wat kollegas in die onderwys sê nie. Ek meen inspekteurs moet terugkom in skole. As onderwysers nie wil skoolhou nie, sal ons hulle dwing om dit te doen.”

Die toejuiging wat hy van afgevaardigdes gekry het, was ’n aanduiding dat hy deur versigtige benaderings te volg, die steun vir herverkiesing kan kry.

’n Oud-skoolinspekteur het aan Die Vryburger gesê dat Zuma se idee om inspekteurs terug te bring, ’n uitstekende gedagte is, maar dat die inspekteurs nie noodwendig positiewe resultate sal lewer nie.

Die kern van die probleem is die onopgeleide onderwysers wat ook ’n kultuur ontwikkel het van nie wil werk nie, het hy gesê.