Wie sê vetplante/kaktusse is nie mooi nie??

Om ’n vetplant tuin of rotstuin te maak is heerlik. Wanneer hulle geplant is, verg hul so min aandag. Wanneer hulle blom word jy so ryklik beloon daarmee. Hulle het ’n bekoring van hul eie. Kaktusse is inheems aan die Amerikas en word meestal in Mexiko, dele van Kalifornië en in droë streke in Suid Amerika, Argentinië, Chili en Peru aangetref. Die Amerikaners beweer die swaeltjies het die saad na Suid-Afrika gedra!

Vetplante wil volson hê vir ten minste die helfte van die dag. Hul wil in goed gedreineerde grond geplant wees. Hul is nie dorstig nie, maar daar is wel van hulle wat water moet kry anders krul hulle blare op. Te veel water laat hulle verrot. Vetplante word “die kamele van die planteryk” genoem. Hulle is gehard en meeste van hulle kan ryptoestande weerstaan. Hulle is ideaal om tussen klippe en in droë gebiede te plant. Hul kan wel in potte ook geplant word. Soos op die foto, tot in ’n ou kruiwa.

Die meeste vetplante is groen, maar daar is ook darem ook ander skakerings van silwergrys, blou, room en rooi. Daar is van hulle wat in die somer groen loof het, en sodra dit begin winter raak, verkleur die blare na ’n rooi/roesbruin kleur en verkleur weer in die somer na groen. Dis regtig iets vir die oog.

Probeer vir u ’n vetplant tuintjie aan die gang kry. Dink net, niemand hoef daarna om te sien as u met vakansie gaan nie, want hul kan lank sonder water oorleef.

Geniet die tuin en die somer