Weermag nou swakker as in 1930

Die Suid-Afrikaanse Lugmag en Vloot , sowel as die Militêre Gesondheidsdiens, ondervind ernstige probleme.

Die lugmag het nie die begroting om die 26 Gripen-vegvliegtuie in die lug te hou nie, sê adm. Alan Green, die Direkteur van Strategie in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Dié vegvliegtuie, wat deel is van die eienaardige wapentransaksie, het in die tyf tussen 1 Julie en 30 September 2012 altesaam net 173 uur gevlieg. Dit beteken sowat 2 uur vliegtyd per Gripen per maand.

Die lugmag se nege reserwe-eskaders het gedurende die tyd nie een enkele uur gevlieg nie. Green het ruiterlik erken dat opdrag gegee is dat dié eskaders nie langer mag vlieg nie.

Net een van die vier fregatte van die Vloot wat ook in die wapentransaksie bekom is, is tans in ’n werkende toestand. Die res is klaarblyklik weens onopgeleide operateurs sodanig beskadig dat dit met groot koste herstel kan word – en fondse is tans nie beskikbaar nie. Volgens Green is twee van die ander vir ’n standaard-versiening ingeneem wat tot nege maande kan duur voor dit weer gebruik kan word..

Die vierde het ’n nuwe enjin nodig wat net in Duitsland ingesit kan word. Dit bring mee dat slegs een fregat vir patrolliediens teen seerowers in die Indiese Oseaan gebruik kan word.

Helmoed-Römer Heitman, ’n bekende militêre kenner, is van mening dat vir dié soort operasies het die vloot al vier fregatte nodig. Volgens hom is die Weermag in baie ernstige moeilikheid.

Meningsvormers is van oordeel dat die SANW op die randjie van die afgrond staan.

Die laaste verslag wat deur die Weermag aan die parlement voorgelê is, was gedoen in 2008.

Intussen is sleutelposte in die weermag vakant. Mediese taakgroep-eenhede is kwalik met 50% beman en spesialis- mediese eenhede net 42%.

In Pretoria word die leër se Hoofkwartier deure gedurende werksure gesluit om te verseker die soldate op kantoor bly. Indien dit nie gedoen word nie, verdwyn almal op ’n Woensdag en op Vrydae sodat daar geen personeel teenwoordig is nie. Die voertuie van die soldate en offisiere moet daagliks by die hekke nagegaan word om seker te maak rekenaars en ander toerusting word nie weggedra nie.

’n Oud-weermag offisier sê die slaankrag van die weermag is pateties en Suid-Afrika se gesofistikeerde wapentuig, wat ten duurste aangekoop is, is waardeloos want niemand weet werklik hoe om die toerusting te gebruik nie. Die gereedheid vlak van die weermag is nou laer as wat dit in 1930 was.