Vrystaat boere herstel pad blitsvinnig

’n Aantal boere van die distrik Heilbron het binne een dag die pad tussen Heilbron en Frankfort herstel, en daarmee gedoen wat die Paaie Departement nie in ’n jaar kon doen nie.

Slegs 25 boere het verlede Dinsdag aan die werk gespring en die pad herstel.

Mnr. J. van der Bijl, ’n boer van die distrik sê die gemeenskap is moeg vir die gesukkel met die betrokke Departement.

Mnre. Jannie Els en Jannie Naudé, het ’n klompie boere in die distrik wat gereeld dié pad ry, gebel en hulp gevra. Die volgende dag is die pad herstel.

Die pad het so gevaarlik geword dat dit nie meer gebruik kon word nie. Talle voertuie is in die voorafgaande tyd ernstig beskadig en ongelukke het gereeld plaasgebind.

Die paaie-departement het ook later die dag probeer help deur ’n stootskraper te verskaf.

In die Hertzogville, Bothaville en Allanridge omgewings het boere ook self die paaie herstel.

Die toestand van paaie in die Vrystaat is die swakste wat dit nog was in die afgelope 100 jaar. Meer as 70% van die teerpaaie is in ’n haglike toestand. As alles volgens goeie standaarde gedoen word, gaan dit meer as R25 miljard kos om die Vrystaat se paaie weer op standaard te kry soos dit was voor 1994.

Altesaam 23 padbou kontrakte van sowat R4 miljard het tot stilstand gekom weens tender bedrog en korrupsie.